Thursday, August 12, 2010

Vrouedag, chocolate en die liefde - deur Johan Obbes

Ek moet eers plegtig om verskoning vra met my hoed in my hand dat ek hierdie week se POST eers teen Vrydag die lig laat sien het. Nee, dit was nie omdat ek te veel die bodem van ’n bottel gesien het nie...dis bloot a.g.v. “werks verpligtinge” gewees. Vir die wat nie weet nie, ek het ook nog my day job waar ek berading doen in ‘n praktyk, so SOUTtiemie kom in terme van prioriteite eers tweede. Dit beteken glad nie dat ek nie lief is vir hierdie stuitige entiteit wat dit geraak het nie. Allermins nie! Ons bak steeds vlytig voort.

Maar so van liefde gepraat wil ek vandag effe nostalgies op myself trek, wat ek wel in alle opregtheid hoop jou nie sal vang soos ’n stadige hysbak vol mans op ’n proteïenryke dieet nie. Nee, o vader have mercy!

Eerlikwaar vertoef die impak van vroue dag nog sterk in my water en raak ek sommer romanties, nostalgies en jukkerig als in een..siende dat ek sjokolade en liefde op die brein het of sal ek eerder sê om die mond het! De Wyk is in Amerika vir werk, en dus het ek verlof gevat om SOUTtiemie op die pad te vat agter die boerewors gordyn in, na vriendin Wendy toe waar ons, ons grand gehou het soos twee tipiese “Jerry Springer gaste” en ’n sjokolade koek gebak het om ons vriendskap te vier met Tannie Joey se Sjokolade koek resep op pg. 266 in “Knuppeldik aan Koningskos”. Die resep sê dat dit die “1e prys by die Pretoria skou” gewen het...en wie is ek nou om teen die “Pretoria skou” te stry. Al was daar nou nie ’n masalatjie in die resep nie, het ek tog ingegee aan die nostalgie en Tannie Joey op haar woord gevat.

Ek en Wendy is albei groot Antjie Krog bewonderaars en so het ons haar bundel “Kleur kom nie alleen nie” (wat uit 'n brandende vuur gered is...maar dis 'n storie vir 'n ander dag) en ons eie poësie vir die aand bygevoeg by die resep, en natuurlik ’n paar glasies Cabernet (of dalk bottels...wie tel nou in elke geval) wat ons saam geflans het in ons gebakkery.

Julle vra dalk hoekom nou juis sjokolade, siende dat ek nog tot op hede net vleis geregte gekies het wat selfs ’n Neandertal se gal sou laat toy-toy het. Wel, ek is gewoond daaraan dat sjokolade menige vroulike “kwale-buie-moerigheid-bedonnerdgeit” en migraines kan verdryf. Eks nie juis seker of ons mans ook so “muti” het wat ons waters kan laat bruis nie as die spulletjie suur geraak het nie. (Praat maar as julle aan iets kan dink.) Die naaste wat ek egter aan kan dink as ’n kuur vir ’n man se “kwale-buie-moerigheid-bedonnerdgeit” en migraines sal ek nou nie hier noem nie, so die naasbeste opsie wat ek aan kan dink is ...iemand naby aan ons se liefde. Ja, dit geld eintlik vir mans en vrouens.

Ons almal hunker na ’n aanvaarding net soos ons is, veiligheid sonder dat ons om hulp hoef te roep en gebondenheid soos net die Here se arms in ’n storm tyd om ons kan bring. Tog kry ons nie altyd wat ons wil hê nie, maar ’n plaas vervanger kom tog donners naby aan die ware Jakob! Soms kry ons dit in ’n romantiese verhouding, soms in ons sjokolade koeke maar ek moet erken (as enkel lopende...en iemand wat maar skugter is vir verhoudings) kry dit by vriende. Vriendin Wendy is natuurlik voor in die koor van so iemand wat jou aanvaar, veilig laat voel en liefde gee. Liefde wat nie voorskryf nie, liefde wat nie iets vra nie, liefde wat net is. My wens vir almal (aangevuur met die inspirasie van vrouedag en ’n gal wat kerm vir ’n glas ENOS na al ons koek vretery) is dat jy jouself met mense kan omring waar hul liefde nie voorwaardes het nie, waar jy hope sjokolade koek kan kry. Simpel kan wees sonder wyn. Bagasie kan afgooi...en absoluut ’n fok voel vir wat mense van jou dink. (Ja, ek het die woord fok gebruik, hou nou op met gil en trippel, haal asem in ’n bruin papier sak en gaan lees ’n Psalm om beter te voel).

Maar klim asseblief uit die boks wat die samelewing jou ingeprop het, gooi af jou labels en wees vir ’n paar uur daai kind in jou binneste met die sjokolade om sy mond, daai boepens boer wat ’n simpel pruik wil dra, die kerk meisie wat wil poep in ’n kombuis, die dromer wat homself drapeer in goue lap en gedigte voorlees by kaggelvuur en kerslig vir wie ook al sal luister...sonder dat jy hoef verlief te wees op hulle. Doen dit net omdat liefde ...liefde is...en jy...jy is!

Ons koek bakkery was heerlik, met geen surprises in die resep nie. Tog het ons spulletjie effe droog uitgekom en ons het die vulsel/versiersuiker dubbeld aangemaak omdat daar nie genoeg was nie. Maar ek sal nie kan sê hoekom nie. Ons het wel besluit om een ronde koek en twee panne kolwyntjies te bak en te versier met hundreds & thousands lekkertjies. Net omdat ons kan! So ek los julle vandag met ’n koek (wat die eerste prys gewen het by die Pretoria skou...nee ek weet nie watter jaar of watter skou dit was nie) en met ’n uitdaging om uit jou boks te klim en om vir ’n ruk te vergeet wat mense van jou wil hê of wat mense wil hê jy moet wees. Be true to yourself en wees lief, met geen verwagtinge nie.

...Dy Wykieeeeee...kom huis toeeeeee....die Kaaaaaap is leeg sonder jou! (Sing hom Sonja...sing hom)

Sjokoladekoek

BESTANDELE:

4 eiers

12,5 mℓ melkpoeier (1 e)

440 mℓ suiker (1 ¾ k)

½ sout

500 mℓ meelblom (2 k)

125 mℓ kakao ( ½ k)

5 mℓ vanielje geursel (1 t)

125 mℓ olie ( ½ k)

10 mℓ bakpoeier hoogvol (2t)

250 mℓ kookwater (1k)

METODE:

Klits eiers en vanielje tot skuim. Voeg suiker bietjiesgewys by. Klits baie goed tot mengsel liggeel is. Sif meelblom, sout, kakao, bakpoeier – en melkpoeier twee keer. (Ek weet nie hoekom dit twee keer is nie maar Wendy se dis glo iets wat meisies in Huishoudkunde leer) Meng olie en kookwater saam. Roer meelmengsel bietjies gewys by eiermengsel, terwyl menger baie stadig klits.

Voeg olie en kookwater by laasgenoemde en roer met ’n houtlepel tot goed gemeng. Bak in twee gesmeerde 23cm panne vir 25 – 30 minute by 180 C (350 F)

VULSEL:

250g versiersuiker

50 mℓ botter of margarien (4 e)

5 mℓ vanielje geursel (1 t)

25 mℓ kakao (2 e)

2 e koue water

METODE:

Room die margarien en voeg geleidelik die versiersuiker, kakao en geursel by. Voeg 2 eetl koue water by en klits tot dit baie lig en donsig is.

Monday, August 2, 2010

Springbok Lasagne, RSG en Cheap Checkers Make-up! - deur Johan Obbes

Julie maand is al werklik vieslik op sy rug gekeer en al herinner hierdie geestes prentjie van... “iets op sy rug gekeer”, sterk aan De Wyk se, “suurlemoen in die hoender se poephol” wen resep van so ruk terug, staan ons egter verstom oor die weghol sukses wat SOUTtiemie die afgelope maand behaal het. Meer as 1300 hits vir Julie! Ek erken dat ek so broeis oor die blog is, dat ek skoon na vlugsout gryp as ek net dink hoe vinnig die blog grootword. Maar don’t fear when rooiwyn is near...want Johan staan sterk en De Wyk staan natuurlik baie trots op aandag met die vrystelling van sy nuwe fotografie website. Fred het die design gedoen en ek dink dis 'n fantastiese show case vir hulle albei se ongelooflike kreatiwiteit. (Gaan kyk bietjie na die link hierbo).

Vrydag aand en al die vriende (Hannes, Robert, Abrie, Fred, Chantel en Jean met ’n goeie wyntjie in die hand) kom mos toe weer saam soos ’n tipiese “Sê wie” inbel program op RSG. As jy nou regtig wil lag moet jy "Se wie" ervaar. Eers het jy vir Bettie van Baberspan wat inbel en kla oor die smaaklose, skilferkors wat haar melk tert gemaak het nadat sy gepasteuriseerde “regerings melk” gebruik het. Of ene Ansie van Bloemfontein wat eerlik waar nie kan verstaan hoekom daar ewe skielik so baie karre in Bloemfontein is nie tydens die afgelope Junie maand...ongelukkig het niemand vir meisie vertel dat daar ’n wêreld beker sokker in Suid-Afrika aan was... en ’n wedstryd ook daai aand in Bloem gespeel sou word het nie. Mense ek speel nie...dis regtig. (PS. Hannes is ook ’n fotograaf so sien bietjie sy website op die link hierbo)

Wat die gaste nie wis nie, was dat ek iets meer tradisioneel wou kook en dus was my eerste keuse vir ’n gereg, die Kerrie Afval in “Knuppeldik aan Koningskos”. So fnuik ’n aarige verskynsel van tipiese toordokter proporsies ons mos toe heel onverwags hier in Palm Court 5.Alles begin waar ek blymoedig aankondig “Ek dink ons kook die Kerrie Afval” maar nie veel aandag gee aan De Wyk wat moerig en swetsend in die kombuis in verdwyn, kaste saggies oop en toe maak en minute later verklaar. “Ons het nie meer Masala nie, so ons kan nie die bleddie skaapkop kook nie”. Hmmm en ek kon natuurlik sweer dat ek nog ’n vol bottel Masala gehad het, wat spesiaal vir my gemeng is deur my vriendin Fatimah van die Kaapse Vlaktes en nou is dit misterieus net weg. Uhu...Maar wag ...hou vas...ek moet eers verduidelik of eerder bely dat ek oor 'n goeie Masala is, soos ’n Ventersdorp-mode-parade oor ’n verdomde “Veld-fokus-khaki-hemp” is, en die liewe Vader alleen weet dat ek absoluut enige kerrie sonder goeie Masala sal afkeur, soos ’n Drag Queen cheap-Checkers-make-up sal reject.

So besluit ons toe maar na die "Masala abduction" dat ons eerder ’n “Lasagne en Kaassous” gaan maak op pg. 114 –Wat natuurlik absoluut ’n wonderwerk op sigself hier in Palm Court Nr. 5 mee gebring het... (Prys Prys!) want die oomblik toe ons die woord uitstuur dat dit nou maar ’n Lasagne is i.p.v. Kerrie Afval, verskyn my blik Masala ewe skielik weer uit die bloute uit, soos die mirage van ’n halwe papsak witwyn, na ’n maand se intensiewe goewerment, rehab vir die bergies wat ek gewoonlik Dinsdae oggende by ons vullis drome raakloop. Ek moet darem net vir die kerkmense en biduur susters byvoeg, dat ek glo in die Bybel se “give honour where honour is due” en dit is dat hulle (my bergie vrinne) is uiters begaafd en het my mooi geleer hoe om orige mense om ses uur in die oggend se ma’s "op te som" as hulle jou papsak try afvat.

Tog die woord is toe uit dat ons Lasagne maak en die gastelys groei vlytig voort tot ons agt mense in totaal is. My co-dependent streep skop toe in en ek begin te dink en droom aan kosmaak asof ek ’n koshuis matrone is. Naarstiglik soek ek en De Wyk toe ’n bak wat groot genoeg is om die Lasagne in te maak, maar al die bakkie wat ons leen by vriende pas nie in ons oond nie, dus besluit ons toe maar om twee disse te maak in twee kleiner bakke...en natuurlik 'n soetigheidjie by dit. So mense ek share met julle vandag ’n Herderspastei, Lasagne en Malva poeding.

Ek het groot geword in die Noord-Kaap waar ons as kinders kon jag voor ons bestuur het. So is ek gewoond aan wilds vleis as ’n absolute delikatessen, uiters gesond, laer in vet as bees en skaap en so smaaklik dat jy net wil aanhou eet. (Nou nie dat ek ’n eating disorder het nie) So bring my jare lange vriendin Chantel, toe vir ons afgekookte springbok vleis wat ons toe in die Lasagne gebruik, in plaas van beesvleis. Absoluut FANTASTIES gewees! Chantel meisie dit was nou regtig ’n 10 op die sterre meter.

Met 3 resepte is vandag se post nogals lank maar ek dog ek gee gou kommentaar op al drie. Die Herderspastei was vinnig en maklik om te maak en behoort heel gepas te wees, as jy kos vinnig moet opdis. Dit was effe sout en het sterk herinner aan bully beef. Dit kan ook natuurlik wees dat my hand te swaar was op die sout of dat ons baie diced bacon ingegooi het.

Die lasagne aan die ander kant, was ’n WENNER gewees (O nee ek hoor Danie Botha se stem in my kop)en ek sal selfs nog meer Kaasssous voorstel vir 'n volgende keer. Die malva poeding was drup-soet heerlik maar het nogals lank nodig gehad om te bak. As dit by vleis kom is ek maklik bereid om die gaarmaak tyd, korter te maak as wat die resep vra... maar om ’n koekerie ding te laat werk moet jy maar lank vat en bly by die resep se tyd...

Herderspastei pg 86


BESTANDELE:

500 g gemaalde beesvleis

500 g gemaalde varkvleis (nie seker of P&P dit verkoop nie...so toe vat ons sommer diced bacon)

500 mℓ sagte broodkrummels (2k) – versigtig dat jy nie te veel vat nie...die spulletjie kan droog uitkom

250 mℓ melk (1k)

1 eier

1 medium ui, gekap

1 knoffel huisie, gekap (ons het sommer twee teelepels crushed garlic in gegooi)

10 mℓ sout (2t)

Knippie peper & Aromat – Ek moet erken dat my hand te swaar was op al die sout & Aromat

25 mℓ Worcester sous (2e)

50 mℓ Blatjang (4e)

4 medium aartappels

METODE:

(Baie maklik en vinnig gewees. Jy gooi basies alles bymekaar en Bob’s your uncle.) Meng al die bestanddele bymekaar, uitgesonderd die blatjang en aartappels. Druk liggies in gesmeerde oondskottel. Bak 1 ½ uur lank in ’n koel oond (160 C – 300 F). Hmmm ons was gejaag vir tyd en het dit sommer 30min ’n warm oond gebak wat ook gewerk het. Kook die aartappels gaar, maak fyn en voeg sout by, stukkie botter of margarien en bietjie melk by soos vir kapokaartappels.

Smeer blatjang oor (dis nou as die spulletjie klaar gebak het), skep kapokaartappels bo-op die vleis en maak met ’n vurk ’n growwe oppervlak. Bak in ’n warm oond totdat die aartappel puntjies ligbruin is.

Lasagne & Kaassous pg 144


BESTANDELE:

1 groot fyngekapte ui

1 soetrissie

’n knippie oreganum

½ koppie rooiwyn (ja soms moet jy dit wragtag in die kos ook gooi)

¼ pd groen of wit lintnoedels (125g) – het nie die “pd” verstaan nie en maar sommer net ’n hele pak gekry

1 kg gemaalde beesvleis (Ons het die beesvleis vervang met afgekookte Springbok vleis)

2 k kaassous

1 reep spekvleis gekap (diced bacon werk net so goed)

2 tamaties vel verwyder en gekap

1 knoffel huisie gekap (crushed garlic werk net so goed)

3 e kookolie

Sout en peper na smaak

1 e tamatie pasta

METODE:

Braai ui, soetrissie en knoffel in olie tot deurskynend. (Verstaan nie lekker wat die deurskynend bedoel nie maar het dit maar soteer soos wat ons gedink het dit moet wees). Voeg vleis en spek by en braai tot bruin en krummelrig. (Krummelrig ?) Voeg sout, oreganum, tamatiepasta en tamaties by. Laat stadig prut tot tamaties sag is. Voeg wyn by en kook 10 min stadig. Kook intussen noedels in vinnig kokende soutwater tot sag, waarby 1 e kookolie gevoeg is. (Jy kry deesdae lasagne noedels wat jy nie voor die tyd hoef te kook nie...kyk net na die pakkie)

Kaassous


BESTANDELE:

2 e botter

2 e meelblom

2 k melk

1 t droë mosterd (ons het sommer ’n potjie vars korreltjie mosterd gebruik wat heerlik was)

Sout en peper

1 k gerasperde Cheddarkaas

1 t Aromat

METODE: (maak die kaas sous in die mikrogolf oond...soveel vinniger en makliker)

Smelt botter en roer meel by. Voeg melk stadig by en roer aanhoudende tot sous dik en gaar is. Geur met sout, peper en mosterd. Voeg gerasperde kaas by.

Smeer die oondskottel liggies en sprei ’n laag noedels oor die boom. Bedek met ’n laag vleismengsel. Volg op met ’n laag kaassous. Herhaal die lae. Eindig met ’n laag kaassous. Strooi Aromat en gerasperde kaas oor en bak vir 20 – 30 min in ’n matige oond. (180C )

Malva Poeding pg 209

BESTANDELE:

250 mℓ meelblom (1k)

5 mℓ koeksoda (1t)

5 mℓ appelkoos konfyt (1t)

15 mℓ margarien (3t)

250 mℓ melk (1k)

1 eier

250 mℓ suiker (1k)

5 mℓ suurlemoensap (1 t)

METODE:

Room botter en suiker. (Ek neem aan dit beteken smelt die spul saam) Voeg eier by. Voeg dan suurlemoensap, koeksoda en appelkooskonfyt by. Roer meel en melk om die beurt by. Bak teen 180 C vir 1 uur in glasbak.

Stroop:

250 mℓ room (1k)

125 mℓ margarien

250 mℓ suiker (1k)

125 mℓ kookwater (1/2 k)

METODE:

Kook alles saam vir 2 minute en gooi oor poeding sodra dit uit die oond kom. Bak tot karamelagtig...en eet asof more die einde van die wereld is. Mwah!

Monday, July 26, 2010

Vetkoek kombuis & vriende - deur Johan Obbes

Vetkoek kombuis & Vriende


Eerstens ’n groot dankie van Stef Bos en sy kantoor vir julle positiewe terug voering oor laas week se resensie! Hou asb. aan met lees. Ons love jou Afrikaas. ;-)

Terug na die hede. Vandag is ek regtig in twee geskeur om eintlik die waarheid en niks anders as die waarheid te vertel van wat alles met ons vetkoek aand gebeur het nie...maar al die staaltjies mag dalk net geveinsde lesers aanstoot gee en dan dink ek gaan dit wragtag ’n einde hê soos “So help me God”, want koek en koekies het ’n heel nuwe betekenis gekry met ons laaste kook episode. Maar ek is mos ’n kerk mens so ek gaan my ordentlik hou. Gumbaja my Lord, Gumbaja!

Hmmm so nou wonder jy seker wat ons geëet het. De Wyk se hart het gehunker na die Andries Pretorius dae (sy voortrekker voorvader...onthou syne het gebid en myne het gesteel – ja ons kan nie familie kies nie) en sy siel het toe gaan rus op ’n Vetkoek resep van Tannie Joey op pg. 231 - Knuppeldik aan Koningskos - en soos net ’n voortrekker in Khaki klere en leer skoen kan protesteer vir volk en vaderland, verseg hy teen my wat wou afval kook, soos ’n steeks donkie en daar val die lot op Vetkoek bak.
Die vriende begin arriveer vanaf kunstenaars, film makers tot bedienings werkers en De Wyk is vlytig in ons miniatuur kombuis besig om beskuit te knie soos ’n nuwe biduur suster net voor die jaarlikse kerk basaar. Die meel lê op die grond en die konsentrasie breed op sy voorkop maar knie word daar geknie. Aanvanklik het ons die spulletjie verdubbel (wel dit was die intensie) om meer te mense te voed want die resep sê nie hoeveel vetkoeke mens uit die beslag kan kry nie en daar raak die spulletjie effe loperig. Maar niks wat Bokomo nie kan uitsorteer nie en gou kry ons die spulletjie styf. Hou vas!

Die deeg word toe vir 50 minute in die skottel gelos om te rys waarna dit in 16 bolletjies gerol is om op die kombuis werksblad uit gepak te word en dan verder individueel te rys. So bedek ons toe die besigheid met ‘n plastieksak sodat die hitte die gistings proses aanhelp en terwyl die stuk sak hierdie menigte van sonde bedek, gaan maak ons seker dat die gaste se glase darem nie leeg is nie, want op ons kombuis muur staan mos breed geskryf dat “Dis nie ’n skande om arm te wees nie, net fokken ongemaklik”. So ons wil nou nie hê die gaste moet ongemaklik wees nie en vertoef toe maar in die sitkamer eerder as in die kombuis. Ons kombuis muur het ’n palet geword waar vriende met Whiteboard markers kan skryf op die teëls en dus het ons gereeld nuwe wyshede wat ons mee kan spog en maak asof ons dit uitgedink het.

Wat ons toe nie weet nie is dat die koeke begin te groei soos iets uit ’n “Gost Busters “ fliek uit en toe ek en De Wyk weer in die kombuis kom trek die spulletjie al bo-oor die wasmasjien! Gelukkig stress ons nie, want ons twee was darem al 1 bottel Pinotage sterk en gooi toe net wit tande vir die gaste dat hulle niks agterkom nie, soos iemand wat gepoep het in die kerk en nie sy bedrieglike maag wil verraai met die dooie reuk nie.

Nie lank nie of ons trek los en begin vetkoek te bak soos net voortrekker bloed dit kan doen en daar kom ons te voorskyn met 16 goudgeel warm vetkoeke! Die vlytigheid stop toe nie hier nie en De Wyk spring los deur twee vulsels aanmekaar te klop, ’n Knoffel Maalvleis en ’n Thai Chicken Curry met Amandels in sommer so uit sy kop uit gedink. Die mense het gekuier, die staaltjies het gevloei, die lag was uit die maag uit en na ’n “verleidelike” nagereg van Chocolate Roomys en “short” cakes biscuits weet ons nou...so this is how the cookie crumbles, of soos mens in Afrikaans sal sê “Dis nou hoe die boerewors buig”.

Bestandele:

500 mℓ Lou water (2k)

2 t Suiker

2 t Droë gis, gelyk - ek vermoed die woord gelyk bedoel die lepels moet gelyk wees?

250 mℓ (5 x) meelblom (5k) – ons was effe verward met al die “5e” en het maar net 5 koppies meelblom gebruik

10 mℓ Sout

25 mℓ Olie (2e) – ons het die olie vervang met regte plaasbotter wat ’n heerlike smaak gegee het

Metode:

Roer suiker in lou water en gooi gis by. Laat rys tot gis bo dryf. (was nie seker van die proses nie maar het maar net voorgegaan). Sif meelblom en sout saam. Voeg olie by gis, meng moet meelblom en knie goed. Laat rys vir 50 minute. Maak op in vetkoeke. Plaas op gesmeerde blad. Sit plastiek oor en laat weer vir 20 minute rys. (onthou om darem so ogie oor die spulletjie te hou so nie gaan jy ook nou nog vetkoek deeg uit jou was masjien skep soos ons hier in Welgemeend straat) Bak in warm olie tot bruin.

Die vetkoek was regtig lekker en ek sal dit enige tyd weer doen. Wat ons gevind het, is dat as die olie baie warm is word die buitekant van die koek gou gaar en die binnekant bly rou. Hou jou olie dus middelmatig. Ons vetkoek het nie juis ’n gat in die middel gelos vir die vulsel nie maar ek is seker dis iets wat met oefening kom.

BAIE BAIE DANKIE, VIR AL JULLE ONDERSTEUNING. ONS HET AL OOR DIE 830 HITS NET VIR Julie MAAND EN DIE SOUT & TIEMIE BLOG GROEI DANKSY JULLE LIEFDE VIR AFRIKAANS EN BEREIDHEID OM TE LAG VIR NONSENS PRAAT.

Saturday, July 17, 2010

Stef Bos, 'n Boer, 'n Klootsak en die liefde! - deur Johan Obbes

Stef Bos, ’n Boer, ’n Klootsak en die liefde!


Na aanloop van laas week se ervaring waar ek ’n beskermings geskenkie gekry het vir my “Piesangs” by my Hollandse vriendin is ek jou wragtag weer hierdie week by die Hollanders en julle dink seker nou dat ons op die trant van die sokker voort neuk en volgende week iets Spaans gaan doen...Uh nou nie juis nie, maar dalk is dit tyd vir ’n paellatjie volgende week om net bietjie balans in ons spulletjie te bring. O’ en in verband met my nuwe “Piesang” geskenkie...baie dankie vir al die terug voering... ek het nog nooit ’n piesang met soveel aftrek gehad nie.

Vir eers, moet ek terug na my Hollandse fassinasie...Stef Bos, ’n kunstenaar wat diep is. Ja, die Vader alleen weet die man is dieper as Kimberley se gat maar ’n vertoning deur hierdie “Afrikaas” (Sy eie woorde vir ’n Kaaskop wat al gedeetelik Afrikaans praat) is opreg ’n ervaring wat elke mens moet geniet. Tot en met Donderdag aand het ek nog net na Stef se musiek geluister as ek myself in ’n kreatiwiteit wil inforseer soos ’n paar nommer 36 boude in ’n 32 hipstertjie... nie dat ek ’n eet probleem het nie. (Personal Note...onthou confession vir al my leuens hierdie week)

So arriveer ek gepantser teen die koue motreën soos Paris Hilton op soek na ’n dagga zol in Hillbrow, saam met De Wyk en Fred by “Die Boer” Restaurant & Teater in Durbanville en gaan plak saam met vriende, sommige nuut en ander al 10 jaar in my hart in hierdie vlekkie nostalgie gedrapeer met rooi fluweel. Voor ek voortgaan moet ek eers net iets verduidelik. “Die Boer” het niks te doen met ’n wit mense benaming, Veldfokus” hemde of ’n Julius Malema refrein nie. Dis ’n teater wat gefokus is op die genot, waardering en ontwikkeling van kunstenaars wat grotendeels in Afrikaans optree, maar nie uitsluitlik nie. Die ambience binne is “rustic” met oop houtbalke in die dak, rooi fluweel gedrapeerde verhoog, Aga koolstoof in die hoek, tafeltjies wat se hout blaaie lyk of dit in ’n skuur geflans is met memorabilia oral oor wat heel moontlik ’n boek kon skryf oor al die legendes wat hier opgetree het. Dis tipies kabaret, nostalgie met ’n koeksister flair, ’n Karoo verlange en ’n rooiwyn welkom.

Een blik na die spyskaart en ek het geen oortuiging nodig gehad om weer na “Die Boer” terug te kom nie. Die porsies is groot. Prys God op die spot! ...nie dat ek ’n eet probleem het nie. (onthou die confession Johan, confession) Hulle spyskaart is uiteenlopend en definitief die prys werd. Vanaf R30 – R130 vir ’n maaltyd het my mangels verstrengel geraak in ’n histerie toe my bord “Boere Pasta” verskyn met biltong, ham, tamatie, gerookte kaasworsies in ’n room sous met Parmesan.

Die vertoning was opreg, intens en ongelooflik snaaks met Stef se reguit praat. Van ’n “Klootsak” (poephol in Hollands... ja ek het ook gedog dis iets wat neig tot Tannie Joey se skaap peertjies resep) tot ’n “Botsmus” het ons in die Kaaskop se psige gedeel, die storie oor sy eersgeborene seun...en sy frases oor sy lewe...”Mense wat jy voor lief is neem jy altyd mit op die verhoog”. “Elke stukkie van my liggaam is van my mense wat voor my geleef het...en as jy kak aanjaag kan jy dit sommer op hulle blameer”. Sy musiek is eerlik, misterieus, oorspronklik, poëties en ’n absolute palet van woorde. Ons het gelag, tot ons skree en met tye stil geword en daai “rots” bewustheid weer ervaar van daai deeltjie in jou siel wat skree “Ek wil liefhê”. Sy musiek het my laat dink, laat verlang maar merendeels ...my geïnspireer om te leef, leef, leef.

Die aand het my laat onthou dat die lewe is te kort vir cheap rooi wyn, Calvinistiese guilt trips en ’n hart sonder liefde. As jy nog nie “Die Boer” besoek het of selfs Stef se musiek in die hande gekry het nie...maak ’n plan! Hulle albei se links is hier bo.

Thursday, July 8, 2010

My piesang kry beskerming. - deur Johan Obbes

My Piesang kry beskerming!


Freak eers uit, haal asem in ’n bruin papier sak en dan sit jy en eet maar solank ’n chocolate om te herstel van die skok. Of maak soos my ma en drink twee gemmertjies om te herstel (of voor te berei vir moontlike traumas) van die skok. Eks ernstig. Ek het beskerming gekry vir my piesang. Wag laat ek verduidelik want ek sien nou al stroom mense met vuur fakkels op pad na my brandstapel. My Hollandse vriendin Sytske het al lankal gesê dat sy vir my ’n geskenk saam gebring het van haar onlangse kuier by die huis. So op die blydskap van Holland se oorwinning in die sokker huppel ek gister na haar kantoor om vir poppie te gaan kry vir ’n koffie.

Skaars binne, kom sy met ’’n speelse gilletjie en baie stoute glimlag tot stilstand en roep kinderlik uit! “Johan Ik heb jou geskenk hierso”. Sytske gooi deesdae ‘n mengsel van Afrikaans en Nederlands want haar Afrikaans is al baie goed, maar so nou en dan kom daar nog ’n woord deur wat klink soos ’n Kaapse conversation tussen twee bergies wat mekaar se ma’s vloek na ’n stryd oor ’n papsak, maar ons ken al heel goed die verskil tussen die twee variasies wanneer sy gewoonweg praat en wanneer die emosie in ’’n effense drif deurkom.

“Ik heb dit niet toegedraai, because it is a weird shape”. Sy druk haar hand in ’n rugsak en stop. O liewe Here ek wil amper nie raai wat daar gaan uitkom nie, want meisie het sendings werk in die Rooilig Distrik in Amsterdam gedoen en ken natuurlik al my skandes...so hier mag dalk net ’n skok kom tussen haar ervarings en my skandes. “Je moet raai wat is dit”. Haar gesiggie blink. “Stroopwafels!” roep ek uit “Nee,” lag sy. Ja, my gedagtes neuk mos maar altyd kos se kant toe. “Kaas!”...ek is amper te bang om te weet wat dit regtig is, maar ek raai verwoed voort. “Nee, man”...sy lag uit haar maag uit. ”uhmmm klompe?” (Ok dan ten minste kos en klere...my brein moet iewers in ’n mate van heiligheid tot ruste kom. Ek kan mos nie nou ’n Psalm begin sing nie)

Sy lag uit haar maag uit en kom te voorskyn met ’’n moerse geel plastiek piesang. Nee, nie moerse soos in “Johan-wil-net-vloek-nie”...moerse soos in ’n 30cm lange plastiek piesang. My oë rek! “O, Vader vrou waarvoor is die ding”. Ek weet amper nie waar om te vat en waar om te los nie. Ons staan immers in die kerk kantoor. “Dis ’n houer vir jou piesang om te sorg dit nie squash nie. Nou kan je jou piesang heeldag vars hou”. Die piesang is ‘n kos blikkie in die vorm van ’n “groot” piesang wat jy gebruik om ’n piesang (vrug) saam met jou te neem en dit veilig en vars te hou teen alle “druk” van buite. Teen die tyd is ek en Sytske histeries soos twee tieners by ’n Kurt Darren konsert op Warrenton.

De Wyk is George en ek soek ’n fotograaf om my piesang af te neem. Ek los ’n boodskap op Hannes se foon en kry ’n mail die volgende dag. “Wat se piesang is dit wat ek moet afneem? Is dit nou weer iets te doen met jou HIV counselling klasse?“ Toe nou nie, maar ek dog ek moes dit met julle deel, want honestly...hoe baie kry jy ’n plastiek piesang kosblikkie wat jou piesang vars hou.

Sytske jy rock! Sokker of geen sokker...jy maak die Kaap Hollands!

Thursday, July 1, 2010

Kerriehoender en die ... handige brandslang - deur Johan Obbes

Kerriehoender (p156) en die “handige” brandslang...

Op ’n Woensdag aand kom De Wyk en ek moeg en moerig by Tannie Joey Pienaar se Kerriehoender af op p156, van ons immer gewilde “Knuppeldik aan Koningskos” kookboek. Teen die tyd het ons al heel bedrewe geraak in ons poging om te “reconnect” met ons Afrikaanse boere herkoms. Wel, ...De Wyk sin ten minste. Dalk moet ek verduidelik. De Wyk is nou regtig nie van hier nie...nee moet hom asseblief nie miskyk nie... die kind is gestuur! Hy is ’n direkte afstammeling van Andries Pretorius wat mos nou weer iets gedoen het in die geskiedenis...beide van ons is nie te seker wat dit was nie maar ons is albei vas oortuig sy oorle’ grootjie-Pretorius se gebed het die deurslag gegee by Bloedrivier. HOU VAS!

My afstammelinge ...wel dis nou ’n ander saak. Ek is ’n Hollander en my Obbes familie is nog nie 100 jaar in Suid-Afrika nie en so vêr ek weet het my voorvader “Jan Haljemal” sy brood en botter verdien as seerower...maar is namate gevang (Duidelik was hy nie op die Somaliese kuslyn nie) en verban deur die koning uit Holland uit as gevolg van sy “buitemuurse aktiwiteite”. So De Wyk se voorouers het gebid en myne het gesteel. (Hmmm ek wonder of die Here dalk vir my iets wou sê deur ons twee woonstel maats te maak!? )

Terug na die Kerriehoender...wat absoluut tong-op-die-grond-soet-suur-watertand lekker was! Ag, Tannie Joey jy het my hart gesteel met hierdie resep.

Die voorbereidings tyd was effe lank maar dit was die gewag werd. Natuurlik kan dit ook wees dat die wag tyd lank was as gevolg van die spatseltjie Cabernet wat die deurbraak gebring het. Vriend Fred “graphic designer” het kom sorg dat ons darem beloon word met die dop stelsel...ons regte rasie leier wat jou nooit sal teleurstel met enigiets onder R24,65 nie. Weereens my leuse...twee bottels wyn is nodig om hierdie reseppie ’n sukses te maak...jy kan steeds daarna besluit of jy enige wyn in die kos wil gooi al dan nie...en mense ASSEBLIEF! ASSEBLIEF! Die lewe is te kort vir skuld gevoelens en slegte wyn! Koop ordentlike goed. Geen papsak en niks onder R24,70 nie. Alles bo dit is aanvaarbaar. (Gaan loer bietjie na Fred se website – www.fredviljoen.com) 

BESTANDELE:

1 hoender (ons het sommer ’n braai pak gekry en met die stukke gewerk)
suurlemoensap (hmm ...ons wou die “Suurlemoen in die hoender se poephol” effek weer verkry en het ongelukkig ’n hele suurlemoen in skywe gesny en in die spulletjie ingesit. Moet dit liewer nie doen nie, want die spulletjie het effe suur uitgekom van ons twee se vlytigheid)
50 g koekmeel blom
25 mℓ kerriepoeier (ja dit was die een versoeking vir hierdie Kapenaar om nie sommer ekstra Masala ook by te gooi nie...ek het geswig...die Masala is sommer by gemoer met mening)
25 mℓ suiker
5 mℓ sout
Knypie peper
1 pakkie sampioensop poeier (moet tog nou net nie weigh-less goed vat nie...as jy gaan ryk kos kook moet jy belê in die oortreding en doen dit ordentlik...vat die vetmaak goeters)
400 mℓ koue water
125 mℓ tamatie sous
50 mℓ blatjang (Mrs. Balls en niks minder nie...dis einde van die maand so jy hoef nie te skimp nie)
50 mℓ Worcestersous

METODE:

Was hoender en droog af. Sny in porsies en bedruip met suurlemoensap. Meng koekmeelblom, kerriepoeier, suiker, sout en peper. (Ja, gooi jou Masalatjie ook hierso by en celebrate jou Capie Status)
Rol hoenderporsies in meelmengsel tot goed bedek. Plaas in ’n oondskottel met ’n deksel en laat ’n halfuur staan. Meng soppoeier, water, tamatiesous, blatjang en Worcestersous. Gooi mengsel oor hoenderporsies. Sit deksel op, plaas in oond en bak op 180 C (350F) vir ’n uur of totdat vleis sag is, bedruip af en toe met sous waarin die hoender bak.

- Vreemd genoeg het die boek nie hierdie keer gepraat van ’n “Vuurvaste Oondskottel” soos by die vorige resepte nie. Ek en De Wyk het dus nie hierdie keer laat spaander om ’n brandblusser by die bure te gaan leen nie maar het met blye galme besef dat daar reeds ’n baie handige brandslang opgerol is ...reg teen die muur aan die buitekant van ons kombuis venster is! PRYS PRYS! Wel, die ontdekking is gemaak nadat ons met ’n donderwolk bo ons koppe die brandslang wou gebruik om ’n ongeskikte buurvrou nat te spuit...maar ons Skuld Gevulde Calvinistiese agtergronde het ons besweer. Tog moet ek dit noem...ek dink elke woonstel blok het een, op die platteland sou ons dalk gepraat het van die voor vatter by die koeksister tafel, maar ek dink my ma sou bloot gesê het “Ag, die bleddie vrou is sommer orig”. Maar ons sit met ’n self aangestelde, “Hoofdogter” in ons woonstel blok. Die een wat altyd kla by die buurt vergaderings, oor die geraas wat 1 minute 33 sekondes na die afsny punt steeds aangehou het, die een wat kla dat haar katjie nie veilig voel met die nuwe Maltese poedel in die jaart nie...en die een wat op my en De Wyk gal af gegaan het oor sy kar nie binne 5 meter van haar garage af geparkeer mag word nie. Ja, die hoof dogters bly nie net op die skool banke nie! Poppie daai brandslang loer vir jou!@



Maar terug by die kokery moet ek byvoeg...Tannie Joey Pienaar...jy het ’n versteekte wenner in die boek wat ons ontdek het! AARTAPPELKOEKIES (p 171) ...met kaas in!

BESTANDELE:

2 medium aartappels
12,5 mℓ koekmeel blom (1 e) – nee ek weet nie hoekom dit ’n “punt 5” het nie...maak maar soos Tannie Joey sê in die boek.
1 eier geklits
5 mℓ sout (1 t)
40 g kaas, gerasper (100 mℓ of ¾ koppie) – Ag, vader vat tog net cheddar! Ja, dis nie maats met jou love handles nie...maar trust my...dis heerlik!

METODE:

Skrop, skil en rasper (of neuk dit plat...maak nie saak nie) die aartappels en meng met die ander bestanddele. Verhit ’n klein bietjie olie of vet in ’n pan en braai lepels vol van die mengsel totdat die koekies aan albei kante ligbruin is.

- ’n Aanbeveling van ons af. Eksperimenteer met verskillende speserye in hierdie spulletjie. Cajun Spices, Roosmaryn soute ens.

Die finale smaak was uitstaande en ons het soet wortels saam met alles gemaak wat die smaak fantasties gekomplimenteer het. So het nog ’n SOUT&tiemie aand geëindig met myself en De Wyk in ’n stille beswyming en boepense wat staan soos ’n klein hondjie sin wat gedog het dat hy nooit weer kos gaan sien nie.

Tannie Joey jou sterretjie skyn nog helder...Mwah!

Sunday, June 20, 2010

Maalvleis...Appelslaai...en die drama tussen die Fresh Produce seksie! - deur Johan Obbes






Maalvleis en Noedelgereg (pg 112) met Appel slaai (pg 242)...uhmm...ons probeer eintlik nog uit figure waar die noedels inpas...

Hierdie resep was voorwaar een van Tannie Joey se wenners gewees. Die kokery was so ’n plesier gewees want ons het hierdie keer van die Kaapse se kleurvolste kook gaste gehad. Kunstenaars vriendin, Wendy huppel kind het vroeg opgedaag (ja dit was skokkend) en so is ons drie, (ek, Wendy en De Wyk) in my rukkerige Ford op pad P&P toe om die proviand te gaan kry (ek het natuurlik vergeet om die meeste bestanddele die vorige dag te kry...met rede) Ek weet eerlik nie wat was die ergste nie...die rit met whip lash rukke wat die kar se verstopte petrol filter veroorsaak, of die twee passasiers se luidkeelse weergawe van “Dis heerlike Lente” wat enige bergie op twee vingers papsak (OK maak dit liewer twee papsakke) sou ore aan sit.

Die vorige dag was ek wel in P&P om van die bestanddele te kry maar toe maak ek mos ’n ongeluk in die “Fresh Produce” seksie net daar tussen die soet patats en komkommers, met my horrel krom, wiel waentjie...dat ek totaal en al van die res van die goetertjies vergeet het. Ingedagte loop ek en soek na Spinasie (die resep makeer 200g spinasie snysels) en al wat ek kry is “Swiss Chard”. Ja, “CHARD” soos in die “fresh-produce-seksie–se-weergawe-van-'n-surprise-Spinasie”...nie die “Shart” soos in “fresh-produce-wat-vrot-is-se-weergawe-van-‘n-surprise-poep” nie. Terwyl ek so al bepeinsend na die pak staar en stap(ek het nie my leesbril opgehad nie) loop ek wragtag vas in een van die Gardens se tipiese karakters, ene met ’n rooi toutjie om die pols,klein koppie soos 'n kuier kierie en klokkies om die enkels dat almal tussen die Fresh Produce net sien hoe...met ’n luide slag ... sien hoe skiet ons al twee se poeiers die wêreld vol dat beide ek en my Chard so getraumatiseer is dat jy net pap tamaties en koekmeelblom sien wat oor die vrugte geslinger word. In my geestes oog (niks met die hippie nou te doen nie) het ek al klaar gesien hoe ek moet vloere mop en guavas poets op die Vrydag middag, om die bestuurder gelukkig te hou met my gemors tussen sy komkommers. Die arme hippie meisie se hele Zen was natuurlik daarmee heen maar ten minste is die Chard darem toe so verward, dat ek doop dit toe sommer Spinasie van daar af. Dit proe in elke geval dieselfde en dit sou nie die verskil in sy herdoopte naam besef nie.

DIE RESEP:

200 g Spinasie snysels - Dis nou die befaamde Swiss Chard wat so verward was na die ongeluk dat dit gedink het dis Spinasie...bly net stil dan weet niemand nie.
50 mℓ Botter (4 e)
50 mℓ Koekmeelblom (4 e)
375 mℓ Melk (1 ½ k)
3 mℓ Sout
5 mℓ Aromat (1 t)- Ja, ons weet dis ongesond maar gooi dit tog net in, proe en moan dan weer op 'n ander dag oor die MSG
1 mℓ Swart peper
5 mℓ Aangemaakte mosterd (1 t) - Ons het vars korreltjie mosterd gevat wat fantasties gewerk het
100 g Cheddar-kaas gerasper (250 mℓ) (1 k) – Jy hoef regtig nie skaam te wees met die kaas nie
1 Groot ui gekap
12,5 mℓ Olie (1 e) – Nee, ek weet nie hoekom dit nou gewis 12,5 is, en nie ’n ronde 12 of 13 nie...maak maar soos die resep se en gaan net aan.
600 g Maalvleis – Ons het ekstra gaste gekry en toe sommer 1kg gebruik
25 mℓ Tamatie pasta (2 e) – ’n Klein blikkie is 60g gewees ...nie seker oor die presiese ooreenkoms tussen die mates nie maar dit was heel gepas om die 1kg vleis te ondersteun.

METODE:

Stap 1: (Ja, die resep was nie van hier nie...dit het selfs “stappe” gehad)

Kook spinasie snysels in soutwater tot gaar. (Dit kook regtig gou gaar – 5min - so hou jou oog op dit) Verwyder van hitte en dreineer. Plaas eenkant.

Berei witsous deur botter in kastrol te smelt en koekmeelblom by te roer. (Hou vas...die melk kom nog) Roer oor hitte vir 1 minuut. Voeg melk geleidelik by en roer oor baie lae hitte tot sous glad en dik is. (Ja, ek en Wendy het gedink dat Tannie Joey dalk ’n spesiale resep vir witsous gehad het sonder melk...want ons het nie vêr genoeg gelees om te sien dat dit wel melk in kry nie)

Geur met sout, peper, mosterd en helfte van kaas. Roer tot gemeng. (Nou O’ vader hierdie sous is ’n absolute wenner! Dekadent en bruikbaar vir menige disse...Ina Paarman kan gerus die ding in ’n bottel verkoop. Tannie Joey hierdie is jou weliswaar ’n tien op die sterremeter)

Soteer (’n grend woord vir roer braai) ui in olie vir 2 minute, voeg vleis en tamatiepasta by en roer tot vleis begin verbruin. Strooi Aromat oor vleis. (Maak soos ek sê en nie soos ek doen nie...die gaste moes maar Aromat oor strooi want ek het vergeet) Verwyder van hitte.

Stap 2: Skep vleis op bodem van gesmeerde, vuurvaste oondskottel. (Asseblief moenie skrik vir die “vuurvaste” verwysing nie. Ek het ook eers gedog dat “vuurvaste” beteken dat dit soos ’n Franse flambé in my oond gaan lyk met vlamme, kak en drama maar dis bloot maar net ’n woord wat die oumense vroeër jare gebruik het. Wees rustig, kook voort en drink maar nog wyn) Skep spinasie snysels bo-op. Gooi witsous oor en sprinkel oorblywende kaas bo-op. Sprinkel bietjie paprika oor en bak in voorverhitte oond van 180 C tot kaas gesmelt en ligbruin bo-op is, ongeveer 20 minute. Dien dadelik op.

ONS MENING: Absoluut heerlik! Ek was verras oor hoe lekker die sous en kaas dit gemaak het. Die spinasie het ’n verandering gebring dat dit nie te veel soos ’n Lasagna geproe het nie. Tog weet ek steeds nie waar die “Noedels” in die naam nou eintlik in die resep moes inpas nie. Dalk moes ons dit met noedels opdis, maar ons het sommer rys gevat. Sal tog noedels volgende keer probeer.

Dan die show stopper van die maaltyd wat onverwags die party ge gatecrash het...

APPEL SLAAI

2 rooi skil appels – ons het sommer 3 gebruik en eks seker jy kan ekstra ingooi
1 k gerasperde cheddar kaas
1 e gerasperde ui – ons het sommer ’n halwe ui gebruik wat heel vulgêr soos ’n Turkse belly dancer die show gesteel het.
1 e droë pietersielie
Sout en peper na smaak
Mayonnaise

METODE: Ontpit die appels nadat dit goed gewas si en sny in blokkies skil en al. Meng al die bestanddele goed en meng met genoeg mayonnaise om slaai goed klam te maak. (ONTHOU KLAM ...NIE ’n SOP NIE)

ONS GASTE: Warren en Steynnie van die performing arts organisasie “13th Floor” http://www.13floor.net het ons gejoin en natuurlik vriendin Wendy. Ek is mal oor Wendy se kuns wat altyd iets magies, ’n varse kinderlikheid en soms ’n tikkie hartseer in het. Meer van haar werk is te sien by http://www.offthewallcontemporary.com/index.php?option=com_morfeoshow&task=view&gallery=49&Itemid=136