Friday, February 11, 2011

Die groot trek! - deur Johan Obbes

Johan (aan't blaas) ...en De Wyk (iets in geel)
Wie sou ooit kon dink dat ons wragtag 2011 sou maak!? Die plastiek denneboompies het verlep, die donnerse Suid Ooster waai steeds en ek vermy alle spieëls want op een of ander manier het my klere die rare verskynsel getref waar dit na die fees seisoen nie meer pas nie. Tog grom ek so nou en dan heel hardvogtig vir my eie vreet lustigheid wat elke Desember so irriterend soos ‘n slegte appelkoos griep voor ’n Valentines date by my deur kom klop. Maar ons is hier en die jaar lê voor ons. Vars, vlytig en met hernuwe drif in my rif is ek paraat en praat so veel as moontlik stront om myself te belieg...want ek wil nie al terug wees van vakansie nie.



Die parlement is oop, die land vloed die vakansie is jou werklik al vergete en tog kan jy ’n hier en daar nog iemand bespeur in ’n winkel sentrum wat nou nie juis van ons kontrei is nie en soos ’n onbeskaamde toeris nou maar eenmaal geteel is, blyk dit dat die spulletjie hulleself liederlik geniet in hulle Safari onderbaadjies (Duitsers) wit blonde hare met ’n kreef rooi sonbrand (Skandinawiërs) of die families wat van klein tot groot in matching Crocs nog tussen ons Kapenaars argeloos rondloop in die hoop om ’n Wimpy special te tref, want die Spur is vol. Die punt is, mens weet nooit of jy moet hunker om terug te gaan op vakansie nie en of jy eintlik moet bid dat die vakansie moet ophou. Ek het duidelik nog nie my bui vasgepen nie dus is ek ’n uiteraard van die saak rebels jaloers en net bloot moerig want sien die nuwe jaar het GROOT veranderinge vir ons gebring by Palm Court 5. Ons het getrek! Die Pretoriusse is weer Noord en die Obbesse suid.


Soos die meeste ander Kaapse inboorlinge het ek die vakansie gevlug voor die stroom toeriste wat op Kaapstad toesak, om maar net weer dieselfde ergernis in die kleiner kusdorpies te gaan oordra.

Fred  Viljoen, De Wyk Pretorius en yours truly Johan Obbes
So word ek toe die “toeris” ...en die pyn in die inboorlinge se gatte met my wangedrag. Nee, ek praat nie van wangedrag soos om papsak te drink uit ’n Ford Cortina se kattebak, langs die Hartbeespoort dam nie. Ek praat van daai vakansie luim wat jou korrup. Van die vreugde om die Zef in jou Zen los te laat en kommin te wees sonder dat jou vriende of kollegas jou sal sien. Want of jy nou nog in die ontkennings fase is of nie, ons almal het ’n diep kommin streep in ons wat met vakansie tye uitkom en ek het dit eers hierdie Desember aan myself erken...en wat ’n openbaring was dit nie vir my veroordelende konstitusie nie! Ek is gewoonlik die eerste een om ’n vinger (ons sê nie watter een nie) in die verkeer te “demonstreer” in die rigting van ’n GP, EC of NW nommer plaat wat voor my insny; en roep met die grootste verontwaardiging (soos Ant Stienie oor die voorhekkie) hoe kommin die mense is met hulle two-tone Veldfokus hemde, rugby kort broeke, tear drop oorbelletjies en tarentaal highlights wat in die Waterfront rond stap. Kaapstad is tog immers die mode stad van die Afrika...se ek die hipokraat wat in ‘n Billabong slaap T-shirt (van my skool jare) sit en skryf.

Maar my belydenis vandag is immers van korte duur so lees gou want ek delete wragtag hierdie skuld erkentenis binnekort. Ek het die vakansie in ’n GP kar rond gery, straat op en straat af in ’n kusdorpie asof ek op ’n Sondag middag rit is met die vensters groot oop, ’n Nicholas Louw nommer op die CD player (kliphard natuurlik), my drie klein nefietjies (tussen 17 maande en 10 jaar) wat almal kliphard saam sing op ’n liedjie wat klink of dit met back tracks opgeneem is, iets natuurlik met ’n “Ek is lief vir jou my bokkie/rokkie/frokkie en nou soen jy my nie meer nie, want jy het ’n nuwe ou by jou niggie se troue ontmoet in Ventersdorp” tipe deuntjie. Met so nou en dan ’n stukkie snot wat van agter af na my kant toe geskiet word (ek wou nie omkyk om te sien wie die skuldige was nie), want ek was gatvol verby met grafies, see sand, krismis crackers en vuil doeke wat opstapel in die vullis want die munisipaliteit werk oortyd. Ek dink ek pynig myself want uit die aard van die saak was dit my toedoen dat dié drietjies, almal met snot beskiet. Ek het hulle geleer het om te sê “HOU VAS” en dit was moeilikheid soek in die ergste graad, want watter kind gaan die volwasse humor in die uitdrukking snap. Vir hulle is die enigste assosiasie vir “HOU VAS” dat iets eers gegooi moet word in iemand se rigting wat dan noodwendig gevang moet word met die ondersteunende woorde van “HOU VAS” om die gebruik af te rond. Desnieteenstaande kan ek eerlik sê dat die vakansie was heerlik, kort en nee ek het nie Nuwejaar 7e Laan op die TV gekyk nie maar vroeg ingekruip met ’n boek en geluister hoe die bure mekaar moker met die oorskiet Kersdag skaapboud been, afgewissel met tussenposes van vuurwerke, sleurende weergawes van Old Lang Syne en die sagte gedrup van die mot reën wat die nuwe jaar inlui.

Wat 2011 vir ons inhou, weet ek nie. Wat dit vir SOUT en Tiemie hierdie jaar inhou is wel heelwat verandering. Teen die einde van 2010 was ek en De Wyk se lewens so deurmekaar dat ons Esmarie Weydeman moes afveg wat die publikasie regte van ons skandes wou koop vir Huisgenoot. Tog in die diskoers van wat eintlik hier agter die kruie blad aangaan, wil ek meedeel dat ons projekkie steeds gaan voortgaan. Dit sal anders wees en ons sal moet hard werk om ons skandes te koördineer, maar ek glo hard dat De Wyk net aspris was oor hy gesien het die skaap peertjie resep lê voor.

Eks op Kleinmond en De Wyk nou in Jo’burg maar ons behou hierdie keer die goeie of sal ek eerder net erken dat ek behou my Zef in my Zen na alles beproef is. Ons nuwe website is onder konstruksie, resepte begin algar op te gaar en my lus vir ’n Masala lê vlak. So HOU VAS, kom skiet bietjie snot en kyk saam met my na ’n paar foto’s van 2010 se ervarings wat ons tot hier gebring het. Mwah! De Wyk...die Kaap mis jou

Fabulash


Saturday, November 20, 2010

Hoender à la Transvaal style saam met die Kaapse hippies - deur Johan Obbes

Palm Court 5 is nou al seker so gatvol van al wat ’n hoender resep is, dat selfs die Hadidas in die buurt lig loop. Almal wonder seker of ons nie een of ander tyd ’n rooi vleisie iewers sal nader hark nie, want al wat ons hier eet is hoender en nogmaals hoender. Dit is dus geen wonder dat die eekhorings in die tuin, so vlytig en verdomp cheeky is nie...hulle moet op ’n manier insae het, dat in tye van Palm Court armoede, dit die hadidas is wat gaan moet instaan vir hoender vleis en nie hulle wollerige lyfies as skaap tjops nie.


Tog het ek my bedenkinge oor wat De Wyk nou die dag hier aangebring het want ek kon sweer ek het ‘n hadida in die oggend ure met my skoen getref (hoop die bure gee die skoen terug)...plus die klomp vere wat so suspisieus in die kombuis drom verskyn het, is definitief nie die oorblyfsels van my Madi Gras pakkie van verlede jaar nie. Maar ek bly maar stil en hou my mond want die Pretorius voorsate is voorbidders en die Obbes’e seerowers. Nou-nou dink iemand ek het die voël iewers gesteel en dan sit ek nog met Fauna & Flora ook op my nek.

So het ons die plesier gehad om ons vriende uit die ou Transvaal...daar waar my Sarie woon...onlangs kom kuier het. So vinnige in en uit kuiertjie. Dit was toe die gulde geleentheid om ‘n Transvaalse hoendertjie (of Kaapse knock off Hadida) te kook. Die beste was dat Linda wat opleiding het as ’n chef (meisie die Here seën jou) my gejoin het in die kombuis. So ons praat van nou van ’n kaliber meisie wat lank by The Lost City, Sun City, The Palace en al waar ‘n queen nog kan uithang gewerk het. Dus was dit ek en sy in die kombuis en aangesien sy nou so gewoond is aan paleise en goeters, is dit mos nou heel gepas om haar ’n à la King resep in die hand te stop by ons Palm Court gehuggie. En nee moenie worry oor seksisme hier nie, Kaapstad het genoeg Queens so die hele uitgebreide koninklike hof was verteenwoordig in ons poeierse daar die aand. Kings, Queens, Jokers en bakkers. Ja, ek sal maar die bakker wees in hierdie staaltjie.

Ek moet sê dat Linda se eerste ervaring van Kaapstad kinderlik eerlik was na sy en OJ (haar broer) die dag Langstraat verken het. Met blase aan die voete, krul hare wat individualisties gemince het in die Kaapse weer en ’n vonk in haar oë, kondig meisie die aand ekstaties aan. “Nou verstaan ek julle Kapenaars...julle is almal ’n klomp hippies”. Ja, my skat ons is hippies en wag tot jy ons as nudiste op Sandy Bay sien paradeer met winter vette wat agter jou aansleep soos gesoute botter en smag na ’n bietjie quick tan. Die eienaardigheid daarvan oortref selfs die bonatuurlike verskynsel van ’n ANC lid in Khaki klere by ’n Ventersdorp boere skou.

Terug na realiteit en erkentenisse moet ek bieg dat ek nie wou afsteek by niggie nie, want die oomblik toe sy daai “Too fresh too flop” voorskootjie aan het en my stomp kombuis messe in drie hale skerp gemaak het ...het ek besef – O hou vas... hier kom kak! Die resep Hoender à la King pg 152 in Knuppeldik aan Koningskos was egter heel maklik, dus kon ek en Linda seker maak dat die belangrikste bestanddeel vir ’n gesellige kuier aand ...die wyntjies... stadig in opregte waardering geniet is. Die kos was heerlik en ons het sommer geroosterde groente daarby opgedis...en Hannes het kom vly met ’n Lemon Meringue tert na die maal.

En as julle gewonder het hoekom ons swart en wit gaan hierdie week...was dit om te wys dat goeie beligting, ‘n goeie fotograaf en dank die Here swart en wit foto’s wondere verrig vir die donker kringe om my oë. So hierdie week wil ek luidkeels uitroep soos die bergies op die parade “ Viva vir ’n stad met Kings en Queens, stuitige Afrikaans wat selfs jou hare laat mince, goue Transvaalse vriende en vir swart en wit wondere wat ons harte sagmaak.”

HOENDER À LA KING

1 Groterige Hoender (of hadida)

1 blokkie hoender ekstrak

50g botter of margarien (60ml) (1/4k)

2 uie fyn gekap

1 blikkie geroomde sampioene

25ml fyn gekapte pietersielie

1 pakkie hoender roomsop van 59g

METODE:

Kook hoender met ekstrak in soveel kookwater dat daar uiteindelik 400 mℓ sous is wanneer die hoender gaar is. Ontbeen hoender en sny vleis in stukkies. Braai uie in botter tot sag. Voeg sampioene en pietersielie by. Meng soppoeier met 250ml van die hoender sous en roer by uiemengsel. Voeg res van sous by wanneer mengsel dik is, roer en laat opkook. Voeg hoendervleis by, verlaag hitter en prut 10minute. Roer af en toe.

Enhanced by Zemanta

Saturday, October 23, 2010

Sabanangvleis en my harriets wat gered moes word! Hou vas! - deur Johan Obbes

Ek is nou verby die punt om verskoning te vra vir die lang stilte hier op ons blog. Ongeag van die trauma dat my harriets (hare in Gaylic/Gam dialek) lyk soos ’n depressiewe shibeen mop wat smag vir ’n bietjie Jik, het so baie gebeur in die afgelope paar weke sedert ek laas geskryf het. Eerstens het ek geswig onder die druk van my harriets wat my wil skei en toe naarstiglik gemaak het na die naaste Pick & Pay om die nagmerrie reg te stel. Soos ’n ekstatiese huisvrou in ’n shopping trollie kompetisie het ek gehardloop, met die klanke van Chariots of Fire in my kop, om die laaste pot Black Like Me hair straightner in die hande te kry...want kyk ’n man het darem sy trots en my geduld kan ook net so vêr getoets word. Die feit dat my hare die kindertjies in die buurt begin bang maak het, het my laat besef dis of alles afskeer of ek moet die bolla klits dat ek weer van die CIA se most wanted list af gehaal kan word.


...Ek wil ook net jammer sê vir die 120kg Sisi wat ek uit die pad geskouer, gehead butt en toe gestoei het op die winkel se vloer vir daai laaste ou boksie hair straightner op die rak. Net die feit dat sy dit eerste gevat het maak glad nie saak nie. So my krul hare (of dit wat oor is daarvan) is weer onderdruk soos gister se KFC wat bly herhaal soos nog ’n Afrikaanse sanger se skandes in die media. Terug na die “ek was besig lysie” wil ek byvoeg dat ek darem tans (veronderstel is) om te swot vir my UNISA eksamens, my gewone beradings besigheid steeds bedryf, ’n rubriek skryf vir ’n nuwe Engelse beradings netwerk se tydskrif en ek help bestuur so tussen deur ’n vriend se restaurant en deli genaamd “Bread Milk and Honey” ...waar ek soggens 5:20 vm. die eerste lot muffins in die oond moet kry. Dus is ek teen sewe uur saans so moeg dat ek net in die bed val en vir myself kinderlik opreg lieg soos ’n politikus en sê dat môre meer tyd sal hê vir alles wat ek moet en wil doen.

Dan wil ek asseblief die skuld gevoelens verdeel en byvoeg dat vriend De Wyk (en Sout & Tiemie se fotograaf) se jet set lewe is ook deesdae iets waarmee ek nie meer kan tred hou nie, want ek voel al soos sy motor bestuurder deurdat ek hom meer by die lughawe aflaai en optel as wat ek en hy saam kook, saam poep of saam kla oor die donnerse Aromat wat maar net nie uit die Knuppeldik aan Koningskos resepte kan bly nie. Ek vermoed dat daar nie in die 80’s enige kennis was van MSG of ongesonde preserveermiddels nie. Solank iemand net nie eendag vir my kom sê dat daar skadelike vette, of enigiets vetmaak in my KFC verslawing wegkruip nie. (Selektiewe denial is tog so lekker as jy dit die dag kan aan en afskakel)

So my punt is dat ek en De Wyk se program so dol was die afgelope tyd dat ons skaars by enigiets uitgekom het...en die groot nuus is natuurlik! Drum roll please. Ons werk aan ‘n website vir Sout & Tiemie om dit meer interaktief te maak, met meer resensies vir restaurante, kunstenaars, julle menings, julle resepte, julle ervarings , kaggel kak, negosie goetertjies wat gesmous kan word en natuurlik meer advertensie spasie sodat julle ook julle besighede hier kan adverteer. So hou vas!


Dus dit nou daar gelaat. Ek neem aan dat ek nou genoeg victim gespeel het en nou kan oorgaan na die Sabananvleis gereg op pg 113 wat ons gekook het. Wat in die wêreld sabanang beteken weet ek glad nie, so moet liewer nie eers vra nie. Ons het eers gedog dis een of ander skaap lies lappe gebruik word...maar toe nou nie. Wat ek wel weet is dat ons gesmul het en ons standaarde verhoog het vanaf ’n botteltjie wyn na ’n doos wyn vir die aand. Ons het darem ook ons standaarde. Die spulletjie is maklik en gou om te maak...of dalk het ek net nie mooi tred gehou met die boksie Merlot wat ons begelei het deur die proses nie. Dis amper soos ’n herders pastei gewees, maar meer met ’n moerby flair aan dit. Neem alles en moer dit by. Tog het ons vermoed dat dit effe vaal sou uitkom en my hand het onwillekeurig na ’n masalatjie gegryp en so ook ’n paar ander kruie net om die party lekker aan die gang te kry. Ek wil asseblief byvoeg net vir al die sensitiewe lesers dat geen Aromat in hierdie uitgawe beseer is nie.

Of my masala die deurslag gegee het en of dit die Merlot dosie was...ek sal nie weet nie. Wat ek wel weet is dat die opgewondenheid hier by 5 Palm Court hoog loop want ons Sout & Tiemie website is op pad en ons kind kry ’n facelift wat selfs Edith Venter jaloers sal maak. So watch this space!

SABANANGVLEIS


BESTANDELE:

500g gemaalde skaapvleis

1g groot ui

1 knoffelhuisie

1 e botter

500g fyn, gaar aartappels (mash)

Kerrie poeier

Bietjie melk om die kerriepoeier aan te maak

Naeltjies

’n Paar lourier blare

METODE:

Soteer die fyngekapte ui en knoffel in botter. Voeg die vleis by en roer 10 minute lank terwyl dit braai. Meng die vleis en aartappels. Voeg kerrie poeier en melk by en meng. Plaas in ’n oondskottel en versier met naeltjies, lourierblare en klontjies botter. Bak ongeveer ’n halfuur in ’n matige oond. (180C)










Enhanced by Zemanta

Tuesday, September 28, 2010

Tjips en Tuna! Two for the price of one...deur Johan Obbes

Tot my skok kom ek agter dat ek ‘n week oorgeslaan het sonder ‘n Sout & Tiemie insetsel! Aarde sluk my in. Of dalk moet ek dit nie so hardop sê nie, want my hoofmeisie buurvrou mag dalk net idees kry na dese. Poppie het nou die aand weer haar vuvuzela so laat in die aand staan en blaas, dat ek my burgerlike plig gedoen het en haar heel subtiel ingelig het dat die sokker nou iets van die verlede is en dat die swerms mense in Kaapstad so paar maande terug, nie die AWB op perde, die ANC op konferensie of Justin Bieber se fans was nie, maar regtig sokker geesdriftiges wat elk ’n vuvuzela ontdek het.


...Haar terugvoering sou ek eerder wou verruil vir ‘n vuvuzela se geblaas, want meisie se woorde was nou glad nie geskik vir sensitiewe kykers nie. Hmmm ek dink sy het iets oor my ma ook gesê maar daai een het ek gemis.

So poppie kry nie meer ’n kers kaartjie van Palm Court 5 af nie. Gepraat van Palm Court 5...vriend Pretorius en ek is steeds in ons gesonde fase en waar ons elkeen eers die twee vir die prys van een look gehad het as ons in die straat afstap, begin ons darem nou meer vaartbelyn te raak. Of dalk was dit net die bergie onder by die Checkers, se wingerd siek wat afgewerk was, dat hy die wysheid gehad om nie meer vir ons geseënde mense, te sê “Jirre djy is so dik, djy’s somma ’n two for the price of one” as hy nie geld uit ons kon kry nie. Maar so volgens Dunster, (wat op ’n sober dag die karre by Checkers help parkeer) het ek en De Wyk klaarblyklik bietjie afgegooi en tel ons weer elkeen net as een mens...en dit het glad nie te doen met die feit dat iemand vir Dunstar geld gegee het nie. En nee dit was nie ’n bribe om hom stil te kry nie. Dit was my Christen plig om hom finansieel te ondersteun aangesien sy papsak gesteel was.

Maar nie teen staande het ek en De Wyk besluit om Tannie Petro Erasmus se Gebakte Tuna te maak. Kyk bietjie na Pg 66 in Knuppeldik aan Koningskos. Die feit dat ons met dertig blikkies tuna in die kas sit, was nie juis die deurslaggewende motivering nie. Dit was meer ons lus vir vis. (Ja, man dertig blikkies vis...dit was mos resessie...en ek en De Wyk is nog tipies Afrikaners...wanneer dit lyk of die kak die fan gaan tref koop ons blikkies kos op al wat ’n special is, vir die trauma jare wat kwansuis nou kom)

Maar so was al wat kom, die tuna, tjips en vuurvaste oondskottel wat uiteindelik van aangesig tot aangesig in ons kombuis aanmekaar geflans word. Die spulletjie is inderdaad ’n maklike resep maar eerlik waar niks om oor huis toe te skryf nie. Die besigheid kry gewone tjips in. Soos Simba of Lays...net nie slap tjips nie. Beide ek en De Wyk was nie sterk genoeg om ertjies in te gooi soos die resep gesê het nie en was heel gemaklik met mielies. Die resep is egter onvoltooid in die boek en op aandrang van my jare lange ervaring in die kos proe bedryf...kan ek met ’n fynproewers tong heelhartig sê dat jy nie hierdie resep in jou liggaam gaan kry sonder 750 mℓ rooiwyn nie. Dis natuurlik jou keuse of jy enige wyn in die kos ook wil gooi.

De Wyk en ek het ’n ooreenkoms om binnekort die Kerrie Afval te kook, maar ek verstaan nie hoe hy sy agenda beplan nie, want elke keer as ek die afval skeduleer vlieg hy Johannesburg toe vir werk. Mens sou nou dink dat hy bank vas sou staan om deel te hê aan die heerlike Afvaltjie. Tog het ek hom belowe dat ek dit nie sal maak sonder hom nie en dus wag ons tot hy seker is dat hy ook hier sal wees vir die unieke boere reseppie. As daar enige van julle is wat ook wil deel hê aan een van ons saam kook aande, of meer spesifiek die Afvaltjie...laat weet my asb. Ons kyk waar ons ’n plan kan maak.

GEBAKTE TUNA


BESTANDELE:

2 blikkies tuna, 200g elk

1 blikkie sampioen roomsop (405g)

2 koppies bevrore ertjies (ons het dit vervang met ’n blikkie mielies)

1 groot pak aartappel skyfies (150g) moenie grend tjips koop nie...dit gaan in elke geval ’n papery word waar jy nie die oorspronklike smaak proe nie.

¾ k melk

Sout & peper na smaak

METODE:

Vlok tuna fyn. (Ja, ek het ook gelag vir daai woord) Smeer vuurvaste oondskottel. Uhu...julle ken nou al die storie oor die vuur vaste spulletjie. Meng sampioen sop, melk, sout en peper. Klits goed saam. Gooi mengsel oor die lae van skyfies, tuna en ertjies. Bedien met rys en slaai.

Tuesday, September 14, 2010

Aromat, snot en die kilojoules - deur Johan Obbes

Een ding wat ons nou al agtergekom het met die Knuppeldik resepte is dat hulle skrywers was lief om Aromat in die spulletjie te gooi. Ek kan my net indink dat dit my tipe mense is, wat die boek geskryf het en aangesien die boek se eerste druk in 1985 was, neem ek aan hulle is nog van die ou tradisionele soort wat goed kan weglê in kos in. Nie soos deesdae waar ons almal permanent op dieet is nie. Deesdae word elke lekker ding mos eers in die Huisgenoot gekaap (langs een of ander Leeu man trou Slang vrou tipe bisarre storie, of Joost sê dit was nie hy nie) en een of ander kanker vormende kwaliteit gegee wat mense dan die produk laat los soos ’n stuk snot wat jy van jou vinger wil afkry. Nie dat ek in my neus krap nie...ek sê maar net.


In my Sielkunde studies kom dit immers meer en meer voor hoe mense nodig het om te voel dat hulle iewers in die samelewing hoort. Ons almal het ’n behoefte om iewers by ’n sub kultuur in te pas, so ek dink dat ek sal baie goed inpas by die Aromat brigade van 1985. Ja, ek weet dis ongesond en het alle chemikalie in wat seker al jou hare sal laat mince, maar ek is mal oor Aromat en sou dit wragtig op roomys ook eet as ek kon. So basta met die kyke en neus optrekkery oor daai geel soutjies. Nuwe studies sê in elk geval nou dat eiers veroorsaak blykbaar nie cholesterol nie, so as julle net ’n paar jaar kan vasbyt sal Aromat weer gesond gebrandmerk word vorentoe...ek eet dit solank voort in geloof.

Ek en De Wyk is aan’t gesond eet en leef. Vergeet nou eers van die Aromat en verbeel jou dit was ’n droom waar jy dit in gelees het. Ons het besluit dat ons wil Koolhidrate uit ons dieet uitsny aangesien ons so las het van die kilojoules hier in Palm Court 5. Ek weet nie hoe dit gebeur nie maar ek weet net dit is die klein bliksempies wat in die nag kom en ons klere kom kleiner maak, so ek en Andries Pretorius die 27e het oorlog verklaar teen die kilojoules. Ons beveg nou die kilojoules wat klaarblyklik in koolhidrate is, met slaaie, vetvrye suiwel, tuna, baie proteïene en ek vind die beste teenvoeter is natuurlik steeds so paar bottels Cabernet of Merlot voor, tydens en na ete. Geen mens kan daai depressie van maer word kos oorleef as jy nie ondersteuning van die wyn bottel ook het nie. En dit sê ek nou nie asof ek ‘n drank of eet probleem het nie. Ek sê maar net. Vestaan djy!

Dis toe dat ons besluit om eers die gesond etery halt te roep na 4 ure se aanhou en kies toe die Spaghetti Bolognaise op pg 105 in Knuppeldik aan Koningskos. Soos my ma ook sal sê dat te veel van ’n goeie ding is ook nie goed nie. Ons voel toe dat ons liggame is absoluut verwese en uitgehonger vir bietjie koolhidrate en kies dus toe die pasta besigheid, maar glo my ons moes toe net double check dat ons nie in ’n depressie verval nie en maak toe seker dat ons so paar flessies wyn ook byderhand het. Vir die medisinale redes natuurlik.

Daar was nie enige verrassings met die kokery nie behalwe dat ek en De Wyk staan en huil het van die uie skil soos twee bergies wat se papsak gekonfiskeer is. Nie dat dit ons al ooit oorgekom het nie...ons weet waar om die papsak weg te steek.

Die resep is maklik, baie vullend en kan gou geëet word. Ons albei stel wel voor dat jy dit bietjie op tert met masala of souse of sterker speserye. Dis baie gepas vir iemand met ’n bloeiende maagseer wat nie iets sterks kan eet nie, maar ’n bolognaise is mos maar ’n wenner as dit ’n souserige spulletjie is. So gebruik jou eie oordeel en natuurlik geld die reël altyd...to each his own! Volg jou hart...of in die geval...jou maag.

SPAGHETTI BOLOGNAISE


BESTANDELE

50 mℓ kookolie (4 e)

2 groot uie, in skywe gesny

2 knoffelhuisies, gekneus

750g gemaalde beesvleis

4 middelslag tamaties, geskil en gekap (al sê die resep dit moet geskil wees...het ons dit nie gedoen nie en voel dis net onnodig om dit te skil)

1 blikkie tamatie pasta (115 g)

10 mℓ suiker (2 t )

7 mℓ sout (1 ½ t )

1 mℓ rissie sous of ’n knypie rooipeper

1 pak spaghetti (500g)

150 g gerasperde kaas (375 mℓ) (1 ½ t)

25 mℓ fyn gekapte pietersielie (2e)

5 mℓ Aromat (1t)

METODE:

Verhit kookolie in ’n swaarboom kastrol en braai uie en knoffel daarin totdat die uie sag is. Voeg maalvleis by, roer met ’n vurk los en braai totdat dit nie meer pienk is nie. Voeg tamaties, tamatiepasta, suiker, sout en rissiesous by, sit die deksel op en stowe ’n halfuur oor lae hitte. Kook intussen die spaghetti in soutwater tot sag volgens die aanwysings op die pak, dreineer en hou warm. Roer helfte van die kaas by die maalvleismengsel net voor opdiening. Meng met die spaghetti, skep in ’n warm opdienskottel en strooi die res van die kaas en die pietersielie bo-oor. Sit warm voor.

Tuesday, September 7, 2010

Depressie speel saam! - deur Johan Obbes

Die resessie by Palm Court 5 wil nog net nie skiet gee nie en so bly ek en De Wyk sterk staan deur ons toilet papier te recycle, koolhidrate te eet (O’ Darling that is so not Cape Town) en onderbroeke te maak uit meelsakke uit. Syne sê Too fresh to flop op die voorkant en myne staan geskryf Self raising – O' Hou vas! Die kerk tannies gaan weer praat oor daai een...nie die self raising deel nie maar oor die koolhidrate een...My kind jy kla nie oor kos nie, julle is veels te bederf.


Aangesien ons toe die stert van die resessie hierso nog beveg soos die Groot Depressie, dog ons om die Ekonomiese Hoendergereg op pg 155 in Knuppeldik aan Koningskos te maak. In stilte staan ons twee toe en kook en voel selfs later of ons nie net ’n grappie moet maak, of ’n Bo Jangles dansie in die kombuis moet gooi om net ’n bietjie vreugde in die huis te kry nie. So amper asof ons weg kruip vir die balju of wil luister na die bure se bakleiery... wat gewoonlik selfs meer amusant is as die mense wat inbel op RSG. O, RSG, RSG...Hou my terug! As jy die dag in ’n grou bui is, moet jy net RSG luister sodat jy kan lag. RSG laat ons twee gewoonlik rol van die lag soos twee Chipmunks, maar selfs die in beller (wat half bewoë is omdat sy uiteindelik op die lyn deur gekom het) ene 84 jarige Bettie van Bapsfontein se klagte aan Amoré oor die woord gatvol wat haar nog haar lewe lank pla kon ons nie eers vandag laat lag nie. Soms wonder ek regtig of ons almal op die dieselfde planeet woon as ek so luister na die mense wat op RSG inbel...maar ons kan hulle ook maar net liefhê en aanvaar.
So tussen die depressie en uie trane deur, onthou ek toe ’n regte Depressie wat eers in my lewe was. My hans skaap lam! My pa het skape gehad toe ons nog in die Noord-Kaap gewoon het en soms het die ooie hulle lammers weggegooi na geboorte, wat die boere dan maar as hans lammers met bottels groot gemaak het. So kry ons toe eendag ’n twee dae oue lammetjie wat naby aan die dood was omdat sy ma hom weg gegooi het. Die dingetjie was gedehidreer het geblêr of dit sy laaste asem was en het sulke geel diarree gehad wat ek heeltyd van die stoep moes afwas. Dus doop ek toe die hanslam Depressie! Bees melk was te sterk vir Depressie se maag en ons maak hom toe groot op rooibostee en custard en dit was nie lank nie of Depressie is ’n groot, rammetjie-uitnek Dorper ram maar met een hengse identiteits krisis. Hy het vas geglo dat hy is ’n mens. Ja, daar is ’n dun streep tussen denial en faith...ek dink Lambchops was meer in die denial gewees as iets anders.

Depressie wou die heeltyd saam weg kruipertjie speel, in die huis rondloop (met sy skaap drolle wat natuurlik soos Hansie en Grietjie se krummeltjies in die gang af lê) en het klaarblyklik glad nie besef dat as die kinders stoei en speel, hy hulle veels te seer gaan maak as ’n volgroeide Dorper skaap ram nie. Gereeld moes ek hoor, JOHAAAAAAN haal vir Depressie uit my rose uit! of ’n oproep van die kafee-eienaar onder in die straat, Johan, Depressie is hier binne die winkel, jy moet hom kom haal want hy bek@# my winkel stoep.

Die hele buurt het later vir Depressie geken. So sit ek eendag in my kamer (veronderstel om te leer) en luister hoe my 6 jarige sussie en haar maatjie beurte maak deur rondom die huis te ry met ’n fiets wat se stut wieletjies so pas afgehaal is...so die twee was vlytig met die speletjie. Maar my sussie se maatjie was regtig so klein en tingerig dat sy gewoonlik twee PEP Stores sweet pakke in die Desember hitte moes aantrek dat jy haar net moes raak sien deur al wat ’n mirage is op die teerpad. Maar wat sy kort gekom het in fisiese grote...het sy opgemaak met haar skerp mond. So hoor ek toe die klanke, hoe die fiets eers om die draai kom en dan sidderende geluid van Depressie se kloutjies oor die sement soos wat hy hulle jaag in sy poging om by te hou. Maar die volgende oomblik hoor ek net ‘n geblêr soos ’n Standard 7 seun se stem wat breek, en toe iets wat klink soos ’n skaap en ’n fiets en ’n PEP Stores sweetpak wat mekaar tref...maar al wat uitkom is Ag, f$#)*f jou k#$k bok en daar deur die venster sien ek vir Depressie triomfantlik bo-op die fiets staan, met die maatjie wat onder die fiets lê en die skaap ram probeer af druk van haar af. Depressie het ongelukkig nie die taal verstaan nie en wou net verder saam speel.

So dit laat dink my toe aan ons huidige resessie kwessie, wat ek regtig ook net soms voor wil sê Ag, f@O)$f jou k#k bok! Maar ek twyfel of dit my sal verstaan. Tog is daar genoeg plesier en lag in die lewe om selfs die resessie en balju tye snaaks te maak...en natuurlik het die ekonomiese hoender gereg wragtag nou ons harte bly gemaak hier in Palm Court 5. Die ding is dat die spulletjie se bestanddele basies alles saam gegooi word in ’n pot en twee koppies aftreksel by kry, wat die rys in die besigheid natuurlik heeltyd laat uitswel. So dit was amper soos ’n lucky packet vir ons twee. Elke keer as ons weer by die vuurvaste oondskottel kom om nog kos te skep is die bak weer vol! Die gereg was lekker maar het definitief nog speserye nodig en my hand het natuurlik onwillekeurig na die masala gegryp ...en sommer na ’n heelwat ander speserye ook. So gebruik maar jou eie oordeel as dit by die speserye kom. Die lewe is te kort vir Ekonomiese kos sonder ’n masalatjie.

EKONOMIESE HOENDERGEREG

BESTANDELE:

1 hoender geurig gaargemaak, ontbeen en gesnipper

1t sout

1 pakkie spek gesnipper (250g)

1k rou rys

3  middelmatige uie, gerasper

2k hoenderaftreksel (sous waarin hoender gaargemaak is)

125g margarien of botter

METODE:

Kook die rys net op en dreineer. Braai die gesnipperde spek, uie en rys in die margarien tot ligbruin. Meng dit met die gesnipperde hoender en skep dit in ‘’n skottel. Gooi die hoenderaftreksel nou oor en geur die gereg verder met Aromat (1 desert lepel). Sit skottel se deksel op en bak in oond totdat al die vloeistof geabsorbeer is.

Enhanced by Zemanta

Tuesday, August 31, 2010

Gaylic, souse en 'n Kaapse koue! - deur Johan Obbes

Laas week het ek heelwat emails van julle gekry waar baie natuurlik (tong-in-die-kies) simpatiseer met my poging om my hare te red dat dit nie mince nie... wat natuurlik deur ’n elektriese skok aan mens gedoen kan word. (Vir die wat nie geweet het nie!) Tog was daar so paar van julle wat nie die kloutjie by die oor kon sit in wat die woord mince beteken het nie of wat dit doen in ’n konsep waar daar dan nou van hare gepraat word nie. Dus wil ek nou hierdie week my stuiwer in die arm beurs gooi vir die Kaapse kultuur en die oningeligtes gou bietjie leer waar die woord vandaan kom en ook meer oor die eienaardige Gaylic dialek waarin daar gereeld van mince gepraat word.


Kaapstad is seker die enigste plek in die land waar ons voorwaar ’n uiteenlopende hoeveelheid Afrikaanse dialekte het. Die verskeidenheid dialekte wissel sterk en hang af van in watter geografiese deel jy jouself bevind. Eerstens kry jy die middestad (waar moi woon in die Tuine, Vredehoek, Tamboerskloof, See Punt) die noordelike voorstede daar agter die boerewors gordyn (Durbanville, Bellville, Tygervallei area) die Kaapse Vlaktes (Bonteheuwel, Hannover Park, Mitchells Plain) die Suidelike Voorstede (Wynberg, Rondebosch, Nuweland) en dan natuurlik ...die Kaapse strate waar ‘n dialek ontstaan het wat ’n mengsel is van al die dialekte in die stad. Maar Gaylic is ’n dialek wat ontstaan het uit die vermenging van ’n uitspraak uit die Kaapse Vlakte en die gay gemeenskap in Kaapstad se lingo. Woorde soos mince word gebruik in sinne wat gewoonlik sal klink soos – "Dit reën vandag en dus gaan my hare frizz/kroes in die weer" – In 'n Kaapse Vlaktes dialek sou dieselfde sin uitgespreek word as “Nai man, my hare gat mince in die rient”. – Maar ’n sin soos “Hy was dronk, het gesteel en toe vang die polisie hom en sluit hom op in die tronk” sal in Gaylic uitgespreek word as “Nai man hy was dik geDora en gat Stella, toe vang die Priscilla’s hom en vat hom na die Hollywood”.

Baie mense in die kaap kan Gaylic vlot praat en dis voorwaar ’n ervaring om so ’n gesprek te hoor. Die punt van die saak is egter dat ek en vele ander Kapenaars van die woorde begin aanleer en integreer het in ons gewone Afrikaanse dialek. Dus moet jy mooi luister, as jy weer ’n Kapenaar Afrikaans hoor praat luister bietjie of jy nie kan hoor of hulle nie dalk ook Gaylic tussenin gooi nie. Vestaan Djy!

Terug na die kokery vir die week en ek wil beaam dat niemand kan hierdie Kaapse winter oorleef sonder ’n knertsie Sjerrie, Glüwein of ‘n ordentlike Cabernet nie...so toe dit tyd was dat ek en vriend Abram die resep moes kies vir die week het ons vier oë gelyktydig gestop op Lollie se Chasseur Sous op pg 79 van Knuppeldik aan Koningskos...nie juis oor die bestanddele nie maar meer oor die chasseur effek van die naam wat klink of die persoon wat dit geskryf het se tong effe sch-sch-sleur van wat ook al in hierdie konkoksie is en natuurlik by nadere betragting wil dit nou juis te meer dat daar so sjerrietjie in die reseppie moet kom...wat ons winter depressie maar al te vinnig verdryf het. Prys Prys!

So ons twee maak toe Lollie se sousie wat gebruik word oor vleis geregte, amper soos die Spur se Sampioen sous...net met ’n bietjie meer ff-ff flair aan dit... Die wenner van die aand was natuurlik die Sterpoeding op pg 196 wat so hard ons name geroep het dat ons dit nie kon vermy nie. Nou laat ek eerlik wees...die Sterpoeding was seker een van die heerlikste poedings wat ek nog ooit geëet het! Dis sag, dekadent, romerig, soet, karamelagtig met ’n sweempie van piesang en vanilla en hope sous oor dit. ’n Regte trapsel soos my ma sal sê. Ek dink jy kan selfs van die suiker in die resep verminder omdat dit baie soet is, maar probeer moet jy dit probeer! Absoluut jeeeeeeeerlik gewees (met ‘n lang J)...en eie aan die naam wil ek roep met blye galme en steeds stukke karamel sous om my mond...Tannie Joey Pienaar, jou sterretjie skyn nog helder vir hierdie reseppie! Maar eers moet ek waai en vir De Wyk op die lughawe gaan optel wat na ’n maand weer terug is in die land van krummelpap, boerewors, snoek en Gaylic. Hou vas!

LOLLIE SE CHASSEUR SOUS


BESTANDELE:

1 pakkie sampioen room sop (69g) – pakkies is deesdae 55g...sal seker nie saak maak nie

170 g blik Ideal melk

1 ½ k water

250 g sampioene

3 e sjerrie (ag jy hoef nou regtig nie skaam te wees vir die sjerrie nie)

METODE:

Verhit ‘n bietjie botter en braai sampioene vir 5 min. Voeg al die bestanddele by en kook vir verdere 10min. Hierdie sous is heerlik. Bedien met biefstuk, tjops, worsies of hamburgers....veral oor gebraaide biefstuk – Waarskuwing...los die sop poeier eers op ’n die water en gooi dit dan by die res van die bestanddele om te verhoed dat dit nie klonte maak nie.

STERPOEDING

BESTANDELE:

60 g botter ( ¾ k)

2 eiers

25 mℓ fyn appelkooskonfyt (2 e)

10 mℓ suurlemoensap of asyn (2t)

120 g meelblom (250 mℓ) (1 k)

5 mℓ sout (1 t)

7 mℓ koeksoda (1 t rond)

250 mℓ melk (1 k)

METODE:

Klop botter en eiers. Roer konfyt en sap of asyn by. Sif meelblom en sout saam en voeg by eiermengsel. Meng koeksoda en melk. Roer by deeg. Gooi in gesmeerde poedingbak en bak gaar. (Hier gaan jy jou eie oordeel moet gebruik oor hoe warm en hoe lank jou stoof gaan neem om dit gaar te kry want die boek sê nie hoe wat of waar nie. Werk op ongeveer 180C en 20 min en bly toets met ’n mes punt gereeld of dit gaar is)

Stroop:

500 mℓ room (2k)

200 g suiker (250 mℓ) (1k)

2 eiers, geklits

METODE:

Meng deeglik. Gooi oor gebakte poeding en bak tot sous dik is. (Die sous gaan nie styf wees nie maar net meer dikkerig tog steeds loperig) Dien poeding met karamelsous op.

Karamelsous:

200 g suiker (250 mℓ) (1 k )

12 g botter (15 mℓ) (3t)

l ℓ melk

8 g vla poeier (15 mℓ) (3t)

2 e soetwyn ...don’t be shy met die wyn

METODE:

Verhit suiker en botter tot ligbruin. Haal van die stoof af en gooi klein bietjie van melk by terwyl u deeglik roer. Sit terug op stoof, roer aanhoudend en gooi res van melk by. Hou aan roer tot sous opkook. Roer vlapoeier by. Voeg die wyn by en roer.