...Ek wil ook net jammer sê vir die 120kg Sisi wat ek uit die pad geskouer, gehead butt en toe gestoei het op die winkel se vloer vir daai laaste ou boksie hair straightner op die rak. Net die feit dat sy dit eerste gevat het maak glad nie saak nie. So my krul hare (of dit wat oor is daarvan) is weer onderdruk soos gister se KFC wat bly herhaal soos nog ’n Afrikaanse sanger se skandes in die media. Terug na die “ek was besig lysie” wil ek byvoeg dat ek darem tans (veronderstel is) om te swot vir my UNISA eksamens, my gewone beradings besigheid steeds bedryf, ’n rubriek skryf vir ’n nuwe Engelse beradings netwerk se tydskrif en ek help bestuur so tussen deur ’n vriend se restaurant en deli genaamd “Bread Milk and Honey” ...waar ek soggens 5:20 vm. die eerste lot muffins in die oond moet kry. Dus is ek teen sewe uur saans so moeg dat ek net in die bed val en vir myself kinderlik opreg lieg soos ’n politikus en sê dat môre meer tyd sal hê vir alles wat ek moet en wil doen.


Dus dit nou daar gelaat. Ek neem aan dat ek nou genoeg victim gespeel het en nou kan oorgaan na die Sabananvleis gereg op pg 113 wat ons gekook het. Wat in die wêreld sabanang beteken weet ek glad nie, so moet liewer nie eers vra nie. Ons het eers gedog dis een of ander skaap lies lappe gebruik word...maar toe nou nie. Wat ek wel weet is dat ons gesmul het en ons standaarde verhoog het vanaf ’n botteltjie wyn na ’n doos wyn vir die aand. Ons het darem ook ons standaarde. Die spulletjie is maklik en gou om te maak...of dalk het ek net nie mooi tred gehou met die boksie Merlot wat ons begelei het deur die proses nie. Dis amper soos ’n herders pastei gewees, maar meer met ’n moerby flair aan dit. Neem alles en moer dit by. Tog het ons vermoed dat dit effe vaal sou uitkom en my hand het onwillekeurig na ’n masalatjie gegryp en so ook ’n paar ander kruie net om die party lekker aan die gang te kry. Ek wil asseblief byvoeg net vir al die sensitiewe lesers dat geen Aromat in hierdie uitgawe beseer is nie.
Of my masala die deurslag gegee het en of dit die Merlot dosie was...ek sal nie weet nie. Wat ek wel weet is dat die opgewondenheid hier by 5 Palm Court hoog loop want ons Sout & Tiemie website is op pad en ons kind kry ’n facelift wat selfs Edith Venter jaloers sal maak. So watch this space!
SABANANGVLEIS
BESTANDELE:
500g gemaalde skaapvleis
1g groot ui
1 knoffelhuisie
1 e botter
500g fyn, gaar aartappels (mash)
Kerrie poeier
Bietjie melk om die kerriepoeier aan te maak
Naeltjies
’n Paar lourier blare
METODE:
Soteer die fyngekapte ui en knoffel in botter. Voeg die vleis by en roer 10 minute lank terwyl dit braai. Meng die vleis en aartappels. Voeg kerrie poeier en melk by en meng. Plaas in ’n oondskottel en versier met naeltjies, lourierblare en klontjies botter. Bak ongeveer ’n halfuur in ’n matige oond. (180C)
No comments:
Post a Comment