Tuesday, August 31, 2010

Gaylic, souse en 'n Kaapse koue! - deur Johan Obbes

Laas week het ek heelwat emails van julle gekry waar baie natuurlik (tong-in-die-kies) simpatiseer met my poging om my hare te red dat dit nie mince nie... wat natuurlik deur ’n elektriese skok aan mens gedoen kan word. (Vir die wat nie geweet het nie!) Tog was daar so paar van julle wat nie die kloutjie by die oor kon sit in wat die woord mince beteken het nie of wat dit doen in ’n konsep waar daar dan nou van hare gepraat word nie. Dus wil ek nou hierdie week my stuiwer in die arm beurs gooi vir die Kaapse kultuur en die oningeligtes gou bietjie leer waar die woord vandaan kom en ook meer oor die eienaardige Gaylic dialek waarin daar gereeld van mince gepraat word.


Kaapstad is seker die enigste plek in die land waar ons voorwaar ’n uiteenlopende hoeveelheid Afrikaanse dialekte het. Die verskeidenheid dialekte wissel sterk en hang af van in watter geografiese deel jy jouself bevind. Eerstens kry jy die middestad (waar moi woon in die Tuine, Vredehoek, Tamboerskloof, See Punt) die noordelike voorstede daar agter die boerewors gordyn (Durbanville, Bellville, Tygervallei area) die Kaapse Vlaktes (Bonteheuwel, Hannover Park, Mitchells Plain) die Suidelike Voorstede (Wynberg, Rondebosch, Nuweland) en dan natuurlik ...die Kaapse strate waar ‘n dialek ontstaan het wat ’n mengsel is van al die dialekte in die stad. Maar Gaylic is ’n dialek wat ontstaan het uit die vermenging van ’n uitspraak uit die Kaapse Vlakte en die gay gemeenskap in Kaapstad se lingo. Woorde soos mince word gebruik in sinne wat gewoonlik sal klink soos – "Dit reën vandag en dus gaan my hare frizz/kroes in die weer" – In 'n Kaapse Vlaktes dialek sou dieselfde sin uitgespreek word as “Nai man, my hare gat mince in die rient”. – Maar ’n sin soos “Hy was dronk, het gesteel en toe vang die polisie hom en sluit hom op in die tronk” sal in Gaylic uitgespreek word as “Nai man hy was dik geDora en gat Stella, toe vang die Priscilla’s hom en vat hom na die Hollywood”.

Baie mense in die kaap kan Gaylic vlot praat en dis voorwaar ’n ervaring om so ’n gesprek te hoor. Die punt van die saak is egter dat ek en vele ander Kapenaars van die woorde begin aanleer en integreer het in ons gewone Afrikaanse dialek. Dus moet jy mooi luister, as jy weer ’n Kapenaar Afrikaans hoor praat luister bietjie of jy nie kan hoor of hulle nie dalk ook Gaylic tussenin gooi nie. Vestaan Djy!

Terug na die kokery vir die week en ek wil beaam dat niemand kan hierdie Kaapse winter oorleef sonder ’n knertsie Sjerrie, Glüwein of ‘n ordentlike Cabernet nie...so toe dit tyd was dat ek en vriend Abram die resep moes kies vir die week het ons vier oë gelyktydig gestop op Lollie se Chasseur Sous op pg 79 van Knuppeldik aan Koningskos...nie juis oor die bestanddele nie maar meer oor die chasseur effek van die naam wat klink of die persoon wat dit geskryf het se tong effe sch-sch-sleur van wat ook al in hierdie konkoksie is en natuurlik by nadere betragting wil dit nou juis te meer dat daar so sjerrietjie in die reseppie moet kom...wat ons winter depressie maar al te vinnig verdryf het. Prys Prys!

So ons twee maak toe Lollie se sousie wat gebruik word oor vleis geregte, amper soos die Spur se Sampioen sous...net met ’n bietjie meer ff-ff flair aan dit... Die wenner van die aand was natuurlik die Sterpoeding op pg 196 wat so hard ons name geroep het dat ons dit nie kon vermy nie. Nou laat ek eerlik wees...die Sterpoeding was seker een van die heerlikste poedings wat ek nog ooit geëet het! Dis sag, dekadent, romerig, soet, karamelagtig met ’n sweempie van piesang en vanilla en hope sous oor dit. ’n Regte trapsel soos my ma sal sê. Ek dink jy kan selfs van die suiker in die resep verminder omdat dit baie soet is, maar probeer moet jy dit probeer! Absoluut jeeeeeeeerlik gewees (met ‘n lang J)...en eie aan die naam wil ek roep met blye galme en steeds stukke karamel sous om my mond...Tannie Joey Pienaar, jou sterretjie skyn nog helder vir hierdie reseppie! Maar eers moet ek waai en vir De Wyk op die lughawe gaan optel wat na ’n maand weer terug is in die land van krummelpap, boerewors, snoek en Gaylic. Hou vas!

LOLLIE SE CHASSEUR SOUS


BESTANDELE:

1 pakkie sampioen room sop (69g) – pakkies is deesdae 55g...sal seker nie saak maak nie

170 g blik Ideal melk

1 ½ k water

250 g sampioene

3 e sjerrie (ag jy hoef nou regtig nie skaam te wees vir die sjerrie nie)

METODE:

Verhit ‘n bietjie botter en braai sampioene vir 5 min. Voeg al die bestanddele by en kook vir verdere 10min. Hierdie sous is heerlik. Bedien met biefstuk, tjops, worsies of hamburgers....veral oor gebraaide biefstuk – Waarskuwing...los die sop poeier eers op ’n die water en gooi dit dan by die res van die bestanddele om te verhoed dat dit nie klonte maak nie.

STERPOEDING

BESTANDELE:

60 g botter ( ¾ k)

2 eiers

25 mℓ fyn appelkooskonfyt (2 e)

10 mℓ suurlemoensap of asyn (2t)

120 g meelblom (250 mℓ) (1 k)

5 mℓ sout (1 t)

7 mℓ koeksoda (1 t rond)

250 mℓ melk (1 k)

METODE:

Klop botter en eiers. Roer konfyt en sap of asyn by. Sif meelblom en sout saam en voeg by eiermengsel. Meng koeksoda en melk. Roer by deeg. Gooi in gesmeerde poedingbak en bak gaar. (Hier gaan jy jou eie oordeel moet gebruik oor hoe warm en hoe lank jou stoof gaan neem om dit gaar te kry want die boek sê nie hoe wat of waar nie. Werk op ongeveer 180C en 20 min en bly toets met ’n mes punt gereeld of dit gaar is)

Stroop:

500 mℓ room (2k)

200 g suiker (250 mℓ) (1k)

2 eiers, geklits

METODE:

Meng deeglik. Gooi oor gebakte poeding en bak tot sous dik is. (Die sous gaan nie styf wees nie maar net meer dikkerig tog steeds loperig) Dien poeding met karamelsous op.

Karamelsous:

200 g suiker (250 mℓ) (1 k )

12 g botter (15 mℓ) (3t)

l ℓ melk

8 g vla poeier (15 mℓ) (3t)

2 e soetwyn ...don’t be shy met die wyn

METODE:

Verhit suiker en botter tot ligbruin. Haal van die stoof af en gooi klein bietjie van melk by terwyl u deeglik roer. Sit terug op stoof, roer aanhoudend en gooi res van melk by. Hou aan roer tot sous opkook. Roer vlapoeier by. Voeg die wyn by en roer.

Tuesday, August 24, 2010

Waar daar 'n rokie is...is daar 'n stofie! - deur Johan Obbes

Ons weer seisoen hier in die Kaap is besig om my eetplanne die afgelope tyd liederlik te fnuik...eers is dit warm en dan ewe skielik trietsig, so seer dat ek soms voel ek ry deur ’n Karoo dorpie as dit by hierdie seisoen kom. Draai jy uit vir ’n hoender in die pad, mis jy wragtag die hele dorp. Nou ek is nie seker of ons nog in die winter of lente hier in Kaapstad is nie, so ek het maar net vir die wis en die onwis ‘n ou comfort kossie nader gesleep...mens wil mos nou nie ondankbaar lyk nie.


Dalk is dit ook om bietjie my trauma te onderdruk want so het moi amper die kombuis laas week afgebrand. Dit was terselfdertyd ook my amperse poging om die blok woonstelle se brandslang te gebruik...maar heel laas toe nie. Ook maar goed De Wyk is nog in Amerika want dit sou ’n gebiddery afgegee het wat tot Van Hunks terug oor Tafelberg sou verdryf het. (Onthou die Pretorius voorvaders bid en die Obbes voorvaders steel...ja ja mens is maar tevrede met die roots wat die Here jou gee). Ek en De Wyk het nie ’n TV nie en verkies dit ook so, mens kry regtig baie meer uit jou dag sonder die versoeking om te plak voor die TV vanaf 3Talk, 7e Laan verby tot by die News at 10...maar as die LUS my nou die dag beetpak kry ek maklik ’n reeks by die DVD winkel en kyk episode na episode tot die koeie huis toe kom. So sit ek juis weer een aand, laas week op die bank vasgenael op my laptop terwyl ‘n ertjiesop op die stoof prut, toe ek net ’n sagte ge shhhhhh uit die kombuis hoor. Ek maak myself eers wys dat dit is weer die hoof meisie hier bo wat iemand uitskel en so ignoreer ek maar die klank en kyk lustig voort.

Maar na ’n ruk begin daar toe ’n rokie in die sitkamer inkom en dis toe dat ek soos ’n kat van ’n transformer boks af, agteroor van die bank af foeter, want waar daar ’n rokie is ...is daar ’n vuurtjie! Ek kan nie onthou of my voete grond gevat het en of ek soos Mao’s Last Dancer in die lug geloop het nie, maar toe ek voor ons Pick & Pay stofie staan toe is dit net ertjie sop en rook wat uit die stofie uitkom. Die spulletjie het oorgekook en so loop die sop toe by die elektriese knoppies van die stoof in...en begin te brand! Dus dat daar ’n rokie toe al by die stofie se knoppies uitkom. My eerste indruk is dat ek moet ophou gil en kalmeer (soos jy op die Kulula vlugte voorgesê word in geval van nood) en terwyl ek nog mik-mik na die brandslang buite die kombuis venster kom die saligheid van self oor my en ek besef dat water en elektrisiteit sal mos lankal stryd opgetel het met mekaar en net my reguit hare weer in ’n mince gaan inskok! En die liewe Vader alleen weet dat jy kan net soveel Black-like-Me-straightner op jou kop hanteer voor alles uitval. Dus dink ek toe maar aan my kapsel wat ek nie weer deur die trauma van ’n straightning session kan deur sit nie en ruk toe eerder die elektrisiteit se hoof skakelaar af om die hele spul te red.

So maak ek toe die stofie vir twee dae lank vreeslik skoon en gee ewe ‘n ekstra bietjie Handy Andy maar meestal uit skuld gevoelens uit...en dalk ’n skoot legalism dat as ek harder probeer en die vuil van die stoof afwas sal die wonderwerk gebeur "uit my arbeid" en weer die stoof laat werk ook..sonder enige rook hierdie keer. Wel, of dit nou genade was of legalism maar my stoof werk na vier dae weer pragtig...sonder enige rook en my kapsel is steeds reguit.

Dus na al die trauma, trietsige weer en vals skuld gevoelens kies ek toe ’n maklike Blatjang Hoender reseppie op pg 149 in Knuppeldik aan Koningskos. Uiters maklik en heerlik gewees! Ek het vir Hannes nader gesleep om te help met die foto’s en toe sommer krummelpap met gesmelte kaas in, by dit gemaak. Straight forward en heerlik gewees...amper soos my hare! Probeer dit gerus.

Blatjang Hoender

BESTANDELE:

1 groot hoender

1 pak bruin uie sop (69g ) – die pakkie in P&P was egter 55g...so ek twyfel of dit ’n verskil maak

½ k mayonnaise

½ k blatjang
½ t sout

METODE:

Sny hoender in porsies, of gebruik dye of boudjies, pak in vuurvaste oondskottel. Meng mayonnaise soppoeier en blatjang in aparte bak. Giet oor rou hoender, tesame met sout. Plaas deksel op en bak 1 ½ - 2 ure op 180C (vir 1ste uur) en daarna 140C, met die deksel af.

Enhanced by Zemanta

Monday, August 16, 2010

'n Kaas komplot! - deur Johan Obbes

Ek dink ek begin nou verstaan hoekom ek so ‘n sout verslawing in my se gebeente het. As dit nie ’n bredie is wat ’n “masalatjie” moet kry nie, sal dit maar altyd ’n stuk biltong of pak chips wees waaragter jy my oë sal sien blink terwyl ek vreet asof die beskawing se voortbestaan van my sukses afhang. So iets sê vir my dat julle, julle dan nie hoef te kommer oor uitsterf nie...don’t fear when Johan is near.

Dalk is dit ’n komplot of ’n vloek wat my Hollandse voorvaders meegebring het met hulle gestelery. (Onthou julle die see rower ene) Die donner! So aangesien ek kaas in my are het, ’n kaaskop van geboorte is en my vriendin ’n rou Hollander is...was dit mos nou die beste besluit om ‘n “kasery” aan die gang te sit wat enige homp Cheddar soos Paris Hilton by die Douglas landbou skou sou laat voel...UIT sê ek vir jou UIT. Maar so gemaak, begin ons die beplanning rondom kaas, en kyk, ’n beter komplot sou jy nie kry nie, nie eers Zuma, Malema, kamp staaldraad, kaas draad of selfs Joost met sy gaatjies onderbroek kon ons oortref nie. (No pun intended met die onderbroek en kaas kombinasie nie...) Want dit was kaas net waar jy kyk in daai klein kombuisie van my.

Maar wag laat ek eers vir niggie Sytske voorstel. Dis einste Hollandse vriendin van my, wat vir my die groot piesang as geskenk gegee het. (Gaan kyk bietjie die blog posts vir Julie) So met kaas op die brein kies ek toe ’n brunch spyskaart met hope kaas geregte want wie beters om my kaas verslawing met my te vier as my Kaaskop vriendin. (Emsie wat is die Afrikaans tog vir brunch?) Ek email toe die bestanddeel benodighede uit in die hoop dat meisie so paar goedjies bring en jou wragtag hier kom meisie aan met 18 eiers...ja dieselfde kind gee eers vir my ’n piesang en nou kom sy met 18 eiers hier aan. Mis ek dalk iets?

Poppie en ek is al jare lank pelle en praat ’n gooi ’n goeie “Afrikaas” tussen ons wat wissel van “Ag, nee jonge dis ‘n egt verdommenis hierdie...” tot woorde wat ek nie hier kan noem nie, want sien my ma is ’n kerk mens en ek wil haar nie traumatize met Hollandse woorde ...wat sy natuurlik in Afrikaans sal en staan en interpreteer nie. Ai die oumense van vandag.

Meisie het mos twee katte en haar dramatiese staaltjies “in Hollands” oor die twee gediertetjies het my ore laat tuit erger as ’n vuvuzela, in die begin jare. My eerste gedagtes by die aanhoor van die kind se taal, was eers dat die bergies voor in die straat se “papsak taal” (altyd mos oor iemand se ma natuurlik...vistaan djy!) werklik hierdie vriendin van my so getraumatiseer het, dat sy dalk dink ons hier in die Kaap praat van katte en ma’s op dieselfde manier...maar dit was bloot Nederlands en nie “papsak Afrikaaps” nie. So ek ken meisie se hart en dis soveel beter as selfs enige Mature Cheddar. Liefde en goedheid van begin tot einde.

Maar so besluit meisie en ek omtrent om vir die hele Kaap te kook en so kies ons toe die Kaaspoffertjies pg. 54 in Knuppeldik aan Koningskos EN die Pizza omelet pg. 55. (Hoeveel kan twee mense ook nou eet!)

Natuurlik praat ons toe so baie dat ons effe meer kaas in die spulletjie gegooi het as wat die resep gesê het. Maar mens kan mos nooit te veel kaas in ’n resep smyt nie, of selfs veel rooiwyn of chocolate nie. Ek sê steeds...leef, eet en voel oor niks skuldig nie! Ooooooo hou my terug!

Die poffertjies was veronderstel om in ’n kolwyntjie pan te kom, maar daar besef ek toe dat my pan te groot is om in die oond te pas... uhu!

Dus maak ons toe maar die spulletjie in ’n koek pan en besluit om die “kaasbrooderigheid” sommer te hou vir die aand se snoek braai. Ja, ja ek weet my beplanning was deurmekaar maar ten minste het ek die bakpoeier onthou...wel dis wat my ma altyd vra. “Ag, herre Johan sê tog net jy het die bakpoeier onthou!” – Ja, ma ek het die bakpoeier onthou.

Wel, om eerlik te wees was beide resepte absoluut dekadent en die kombinasie van die Kaasbrood (was mos eers poffertjies) saam met ’n vars Snoek op die kole, Knoffel botter en Appelkoos jam...op was perfek...hmmm soos nektar op die tong! Probeer dit gerus. Die Pizza-omelet was net so heerlik en ons het in plaas van gekapte ham, sommer diced bacon gevat, (wat is dit met my en diced bacon!) wat die omelet sowaar ’n arrogansie gegee het om ’n enige bacon & eiers ontbyt se gat te skop. HEERLIK gewees...ek en meisie het soos twee katte op die bank neer geplof na die groot vreet en gesels tot die oë amper toe val. Tannie Joey en Tannie Hester...julle resepte was wenners en julle sterretjies skyn nog helder.

En dalk kan ek afsluit met een van die baie wyse sê goed wat onder aan die Pizza omelet was...”Gebruik die tyd waarin jy jou oor die toekoms kwel...om nou te leef.

Kaaspoffertjies


BESTANDELE:

1 k gerasperde kaas (cheddar)

½ t sout

1 e gesmelte margarien

¼ t peper

1 k koekmeel

1 eier geklits in 200 mℓ melk

4 t bakpoeier

½ t droë mosterd

METODE:

Verhit oond 230C (450F). Sif droë bestanddele saam. Meng ander bestanddele en gooi by droë bestanddele. Meng tot sagte deeg. Skep in vlak kolwyntjiepan, ⅔ vol met deeg. Bak vir 12 – 15 min. Bedien warm of koud met kaas, konfyt of heuning.

Pizza-omelet

BESTANDELE:

6 eiers

125 mℓ water ( ½ k )

Sout & peper

50 mℓ botter (4e)

5 mℓ gemengde kruie (1 t)

10 mℓ tamatie puree (2 t )

250 mℓ gekapte ham (1 k) – ons het sommer diced bacon gebruik

2 tamaties geskil en in skywe gesny

6 skywe Cheddar kaas (gerasper werk net so goed)

METODE:

Klits die eiers, voeg water by en geur na smaak. Smelt die botter in die ‘n groot pan. Voeg daarna eiers by sodra die botter sis. Trek die gestolde eier weg van die kante van die pan sodat die rou eier kan inloop. Sprinkel die kruie bo-oor sodra die onderkant gestol is, maar die bokant nog klam is. Meng tamatiepuree en ham. Smeer oor die omelet. Rangskik tamatie- en kaasskywe oor die ham en laat smelt onder die element van die oond.


Thursday, August 12, 2010

Vrouedag, chocolate en die liefde - deur Johan Obbes

Ek moet eers plegtig om verskoning vra met my hoed in my hand dat ek hierdie week se POST eers teen Vrydag die lig laat sien het. Nee, dit was nie omdat ek te veel die bodem van ’n bottel gesien het nie...dis bloot a.g.v. “werks verpligtinge” gewees. Vir die wat nie weet nie, ek het ook nog my day job waar ek berading doen in ‘n praktyk, so SOUTtiemie kom in terme van prioriteite eers tweede. Dit beteken glad nie dat ek nie lief is vir hierdie stuitige entiteit wat dit geraak het nie. Allermins nie! Ons bak steeds vlytig voort.

Maar so van liefde gepraat wil ek vandag effe nostalgies op myself trek, wat ek wel in alle opregtheid hoop jou nie sal vang soos ’n stadige hysbak vol mans op ’n proteïenryke dieet nie. Nee, o vader have mercy!

Eerlikwaar vertoef die impak van vroue dag nog sterk in my water en raak ek sommer romanties, nostalgies en jukkerig als in een..siende dat ek sjokolade en liefde op die brein het of sal ek eerder sê om die mond het! De Wyk is in Amerika vir werk, en dus het ek verlof gevat om SOUTtiemie op die pad te vat agter die boerewors gordyn in, na vriendin Wendy toe waar ons, ons grand gehou het soos twee tipiese “Jerry Springer gaste” en ’n sjokolade koek gebak het om ons vriendskap te vier met Tannie Joey se Sjokolade koek resep op pg. 266 in “Knuppeldik aan Koningskos”. Die resep sê dat dit die “1e prys by die Pretoria skou” gewen het...en wie is ek nou om teen die “Pretoria skou” te stry. Al was daar nou nie ’n masalatjie in die resep nie, het ek tog ingegee aan die nostalgie en Tannie Joey op haar woord gevat.

Ek en Wendy is albei groot Antjie Krog bewonderaars en so het ons haar bundel “Kleur kom nie alleen nie” (wat uit 'n brandende vuur gered is...maar dis 'n storie vir 'n ander dag) en ons eie poësie vir die aand bygevoeg by die resep, en natuurlik ’n paar glasies Cabernet (of dalk bottels...wie tel nou in elke geval) wat ons saam geflans het in ons gebakkery.

Julle vra dalk hoekom nou juis sjokolade, siende dat ek nog tot op hede net vleis geregte gekies het wat selfs ’n Neandertal se gal sou laat toy-toy het. Wel, ek is gewoond daaraan dat sjokolade menige vroulike “kwale-buie-moerigheid-bedonnerdgeit” en migraines kan verdryf. Eks nie juis seker of ons mans ook so “muti” het wat ons waters kan laat bruis nie as die spulletjie suur geraak het nie. (Praat maar as julle aan iets kan dink.) Die naaste wat ek egter aan kan dink as ’n kuur vir ’n man se “kwale-buie-moerigheid-bedonnerdgeit” en migraines sal ek nou nie hier noem nie, so die naasbeste opsie wat ek aan kan dink is ...iemand naby aan ons se liefde. Ja, dit geld eintlik vir mans en vrouens.

Ons almal hunker na ’n aanvaarding net soos ons is, veiligheid sonder dat ons om hulp hoef te roep en gebondenheid soos net die Here se arms in ’n storm tyd om ons kan bring. Tog kry ons nie altyd wat ons wil hê nie, maar ’n plaas vervanger kom tog donners naby aan die ware Jakob! Soms kry ons dit in ’n romantiese verhouding, soms in ons sjokolade koeke maar ek moet erken (as enkel lopende...en iemand wat maar skugter is vir verhoudings) kry dit by vriende. Vriendin Wendy is natuurlik voor in die koor van so iemand wat jou aanvaar, veilig laat voel en liefde gee. Liefde wat nie voorskryf nie, liefde wat nie iets vra nie, liefde wat net is. My wens vir almal (aangevuur met die inspirasie van vrouedag en ’n gal wat kerm vir ’n glas ENOS na al ons koek vretery) is dat jy jouself met mense kan omring waar hul liefde nie voorwaardes het nie, waar jy hope sjokolade koek kan kry. Simpel kan wees sonder wyn. Bagasie kan afgooi...en absoluut ’n fok voel vir wat mense van jou dink. (Ja, ek het die woord fok gebruik, hou nou op met gil en trippel, haal asem in ’n bruin papier sak en gaan lees ’n Psalm om beter te voel).

Maar klim asseblief uit die boks wat die samelewing jou ingeprop het, gooi af jou labels en wees vir ’n paar uur daai kind in jou binneste met die sjokolade om sy mond, daai boepens boer wat ’n simpel pruik wil dra, die kerk meisie wat wil poep in ’n kombuis, die dromer wat homself drapeer in goue lap en gedigte voorlees by kaggelvuur en kerslig vir wie ook al sal luister...sonder dat jy hoef verlief te wees op hulle. Doen dit net omdat liefde ...liefde is...en jy...jy is!

Ons koek bakkery was heerlik, met geen surprises in die resep nie. Tog het ons spulletjie effe droog uitgekom en ons het die vulsel/versiersuiker dubbeld aangemaak omdat daar nie genoeg was nie. Maar ek sal nie kan sê hoekom nie. Ons het wel besluit om een ronde koek en twee panne kolwyntjies te bak en te versier met hundreds & thousands lekkertjies. Net omdat ons kan! So ek los julle vandag met ’n koek (wat die eerste prys gewen het by die Pretoria skou...nee ek weet nie watter jaar of watter skou dit was nie) en met ’n uitdaging om uit jou boks te klim en om vir ’n ruk te vergeet wat mense van jou wil hê of wat mense wil hê jy moet wees. Be true to yourself en wees lief, met geen verwagtinge nie.

...Dy Wykieeeeee...kom huis toeeeeee....die Kaaaaaap is leeg sonder jou! (Sing hom Sonja...sing hom)

Sjokoladekoek

BESTANDELE:

4 eiers

12,5 mℓ melkpoeier (1 e)

440 mℓ suiker (1 ¾ k)

½ sout

500 mℓ meelblom (2 k)

125 mℓ kakao ( ½ k)

5 mℓ vanielje geursel (1 t)

125 mℓ olie ( ½ k)

10 mℓ bakpoeier hoogvol (2t)

250 mℓ kookwater (1k)

METODE:

Klits eiers en vanielje tot skuim. Voeg suiker bietjiesgewys by. Klits baie goed tot mengsel liggeel is. Sif meelblom, sout, kakao, bakpoeier – en melkpoeier twee keer. (Ek weet nie hoekom dit twee keer is nie maar Wendy se dis glo iets wat meisies in Huishoudkunde leer) Meng olie en kookwater saam. Roer meelmengsel bietjies gewys by eiermengsel, terwyl menger baie stadig klits.

Voeg olie en kookwater by laasgenoemde en roer met ’n houtlepel tot goed gemeng. Bak in twee gesmeerde 23cm panne vir 25 – 30 minute by 180 C (350 F)

VULSEL:

250g versiersuiker

50 mℓ botter of margarien (4 e)

5 mℓ vanielje geursel (1 t)

25 mℓ kakao (2 e)

2 e koue water

METODE:

Room die margarien en voeg geleidelik die versiersuiker, kakao en geursel by. Voeg 2 eetl koue water by en klits tot dit baie lig en donsig is.

Monday, August 2, 2010

Springbok Lasagne, RSG en Cheap Checkers Make-up! - deur Johan Obbes

Julie maand is al werklik vieslik op sy rug gekeer en al herinner hierdie geestes prentjie van... “iets op sy rug gekeer”, sterk aan De Wyk se, “suurlemoen in die hoender se poephol” wen resep van so ruk terug, staan ons egter verstom oor die weghol sukses wat SOUTtiemie die afgelope maand behaal het. Meer as 1300 hits vir Julie! Ek erken dat ek so broeis oor die blog is, dat ek skoon na vlugsout gryp as ek net dink hoe vinnig die blog grootword. Maar don’t fear when rooiwyn is near...want Johan staan sterk en De Wyk staan natuurlik baie trots op aandag met die vrystelling van sy nuwe fotografie website. Fred het die design gedoen en ek dink dis 'n fantastiese show case vir hulle albei se ongelooflike kreatiwiteit. (Gaan kyk bietjie na die link hierbo).

Vrydag aand en al die vriende (Hannes, Robert, Abrie, Fred, Chantel en Jean met ’n goeie wyntjie in die hand) kom mos toe weer saam soos ’n tipiese “Sê wie” inbel program op RSG. As jy nou regtig wil lag moet jy "Se wie" ervaar. Eers het jy vir Bettie van Baberspan wat inbel en kla oor die smaaklose, skilferkors wat haar melk tert gemaak het nadat sy gepasteuriseerde “regerings melk” gebruik het. Of ene Ansie van Bloemfontein wat eerlik waar nie kan verstaan hoekom daar ewe skielik so baie karre in Bloemfontein is nie tydens die afgelope Junie maand...ongelukkig het niemand vir meisie vertel dat daar ’n wêreld beker sokker in Suid-Afrika aan was... en ’n wedstryd ook daai aand in Bloem gespeel sou word het nie. Mense ek speel nie...dis regtig. (PS. Hannes is ook ’n fotograaf so sien bietjie sy website op die link hierbo)

Wat die gaste nie wis nie, was dat ek iets meer tradisioneel wou kook en dus was my eerste keuse vir ’n gereg, die Kerrie Afval in “Knuppeldik aan Koningskos”. So fnuik ’n aarige verskynsel van tipiese toordokter proporsies ons mos toe heel onverwags hier in Palm Court 5.Alles begin waar ek blymoedig aankondig “Ek dink ons kook die Kerrie Afval” maar nie veel aandag gee aan De Wyk wat moerig en swetsend in die kombuis in verdwyn, kaste saggies oop en toe maak en minute later verklaar. “Ons het nie meer Masala nie, so ons kan nie die bleddie skaapkop kook nie”. Hmmm en ek kon natuurlik sweer dat ek nog ’n vol bottel Masala gehad het, wat spesiaal vir my gemeng is deur my vriendin Fatimah van die Kaapse Vlaktes en nou is dit misterieus net weg. Uhu...Maar wag ...hou vas...ek moet eers verduidelik of eerder bely dat ek oor 'n goeie Masala is, soos ’n Ventersdorp-mode-parade oor ’n verdomde “Veld-fokus-khaki-hemp” is, en die liewe Vader alleen weet dat ek absoluut enige kerrie sonder goeie Masala sal afkeur, soos ’n Drag Queen cheap-Checkers-make-up sal reject.

So besluit ons toe maar na die "Masala abduction" dat ons eerder ’n “Lasagne en Kaassous” gaan maak op pg. 114 –Wat natuurlik absoluut ’n wonderwerk op sigself hier in Palm Court Nr. 5 mee gebring het... (Prys Prys!) want die oomblik toe ons die woord uitstuur dat dit nou maar ’n Lasagne is i.p.v. Kerrie Afval, verskyn my blik Masala ewe skielik weer uit die bloute uit, soos die mirage van ’n halwe papsak witwyn, na ’n maand se intensiewe goewerment, rehab vir die bergies wat ek gewoonlik Dinsdae oggende by ons vullis drome raakloop. Ek moet darem net vir die kerkmense en biduur susters byvoeg, dat ek glo in die Bybel se “give honour where honour is due” en dit is dat hulle (my bergie vrinne) is uiters begaafd en het my mooi geleer hoe om orige mense om ses uur in die oggend se ma’s "op te som" as hulle jou papsak try afvat.

Tog die woord is toe uit dat ons Lasagne maak en die gastelys groei vlytig voort tot ons agt mense in totaal is. My co-dependent streep skop toe in en ek begin te dink en droom aan kosmaak asof ek ’n koshuis matrone is. Naarstiglik soek ek en De Wyk toe ’n bak wat groot genoeg is om die Lasagne in te maak, maar al die bakkie wat ons leen by vriende pas nie in ons oond nie, dus besluit ons toe maar om twee disse te maak in twee kleiner bakke...en natuurlik 'n soetigheidjie by dit. So mense ek share met julle vandag ’n Herderspastei, Lasagne en Malva poeding.

Ek het groot geword in die Noord-Kaap waar ons as kinders kon jag voor ons bestuur het. So is ek gewoond aan wilds vleis as ’n absolute delikatessen, uiters gesond, laer in vet as bees en skaap en so smaaklik dat jy net wil aanhou eet. (Nou nie dat ek ’n eating disorder het nie) So bring my jare lange vriendin Chantel, toe vir ons afgekookte springbok vleis wat ons toe in die Lasagne gebruik, in plaas van beesvleis. Absoluut FANTASTIES gewees! Chantel meisie dit was nou regtig ’n 10 op die sterre meter.

Met 3 resepte is vandag se post nogals lank maar ek dog ek gee gou kommentaar op al drie. Die Herderspastei was vinnig en maklik om te maak en behoort heel gepas te wees, as jy kos vinnig moet opdis. Dit was effe sout en het sterk herinner aan bully beef. Dit kan ook natuurlik wees dat my hand te swaar was op die sout of dat ons baie diced bacon ingegooi het.

Die lasagne aan die ander kant, was ’n WENNER gewees (O nee ek hoor Danie Botha se stem in my kop)en ek sal selfs nog meer Kaasssous voorstel vir 'n volgende keer. Die malva poeding was drup-soet heerlik maar het nogals lank nodig gehad om te bak. As dit by vleis kom is ek maklik bereid om die gaarmaak tyd, korter te maak as wat die resep vra... maar om ’n koekerie ding te laat werk moet jy maar lank vat en bly by die resep se tyd...

Herderspastei pg 86


BESTANDELE:

500 g gemaalde beesvleis

500 g gemaalde varkvleis (nie seker of P&P dit verkoop nie...so toe vat ons sommer diced bacon)

500 mℓ sagte broodkrummels (2k) – versigtig dat jy nie te veel vat nie...die spulletjie kan droog uitkom

250 mℓ melk (1k)

1 eier

1 medium ui, gekap

1 knoffel huisie, gekap (ons het sommer twee teelepels crushed garlic in gegooi)

10 mℓ sout (2t)

Knippie peper & Aromat – Ek moet erken dat my hand te swaar was op al die sout & Aromat

25 mℓ Worcester sous (2e)

50 mℓ Blatjang (4e)

4 medium aartappels

METODE:

(Baie maklik en vinnig gewees. Jy gooi basies alles bymekaar en Bob’s your uncle.) Meng al die bestanddele bymekaar, uitgesonderd die blatjang en aartappels. Druk liggies in gesmeerde oondskottel. Bak 1 ½ uur lank in ’n koel oond (160 C – 300 F). Hmmm ons was gejaag vir tyd en het dit sommer 30min ’n warm oond gebak wat ook gewerk het. Kook die aartappels gaar, maak fyn en voeg sout by, stukkie botter of margarien en bietjie melk by soos vir kapokaartappels.

Smeer blatjang oor (dis nou as die spulletjie klaar gebak het), skep kapokaartappels bo-op die vleis en maak met ’n vurk ’n growwe oppervlak. Bak in ’n warm oond totdat die aartappel puntjies ligbruin is.

Lasagne & Kaassous pg 144


BESTANDELE:

1 groot fyngekapte ui

1 soetrissie

’n knippie oreganum

½ koppie rooiwyn (ja soms moet jy dit wragtag in die kos ook gooi)

¼ pd groen of wit lintnoedels (125g) – het nie die “pd” verstaan nie en maar sommer net ’n hele pak gekry

1 kg gemaalde beesvleis (Ons het die beesvleis vervang met afgekookte Springbok vleis)

2 k kaassous

1 reep spekvleis gekap (diced bacon werk net so goed)

2 tamaties vel verwyder en gekap

1 knoffel huisie gekap (crushed garlic werk net so goed)

3 e kookolie

Sout en peper na smaak

1 e tamatie pasta

METODE:

Braai ui, soetrissie en knoffel in olie tot deurskynend. (Verstaan nie lekker wat die deurskynend bedoel nie maar het dit maar soteer soos wat ons gedink het dit moet wees). Voeg vleis en spek by en braai tot bruin en krummelrig. (Krummelrig ?) Voeg sout, oreganum, tamatiepasta en tamaties by. Laat stadig prut tot tamaties sag is. Voeg wyn by en kook 10 min stadig. Kook intussen noedels in vinnig kokende soutwater tot sag, waarby 1 e kookolie gevoeg is. (Jy kry deesdae lasagne noedels wat jy nie voor die tyd hoef te kook nie...kyk net na die pakkie)

Kaassous


BESTANDELE:

2 e botter

2 e meelblom

2 k melk

1 t droë mosterd (ons het sommer ’n potjie vars korreltjie mosterd gebruik wat heerlik was)

Sout en peper

1 k gerasperde Cheddarkaas

1 t Aromat

METODE: (maak die kaas sous in die mikrogolf oond...soveel vinniger en makliker)

Smelt botter en roer meel by. Voeg melk stadig by en roer aanhoudende tot sous dik en gaar is. Geur met sout, peper en mosterd. Voeg gerasperde kaas by.

Smeer die oondskottel liggies en sprei ’n laag noedels oor die boom. Bedek met ’n laag vleismengsel. Volg op met ’n laag kaassous. Herhaal die lae. Eindig met ’n laag kaassous. Strooi Aromat en gerasperde kaas oor en bak vir 20 – 30 min in ’n matige oond. (180C )

Malva Poeding pg 209

BESTANDELE:

250 mℓ meelblom (1k)

5 mℓ koeksoda (1t)

5 mℓ appelkoos konfyt (1t)

15 mℓ margarien (3t)

250 mℓ melk (1k)

1 eier

250 mℓ suiker (1k)

5 mℓ suurlemoensap (1 t)

METODE:

Room botter en suiker. (Ek neem aan dit beteken smelt die spul saam) Voeg eier by. Voeg dan suurlemoensap, koeksoda en appelkooskonfyt by. Roer meel en melk om die beurt by. Bak teen 180 C vir 1 uur in glasbak.

Stroop:

250 mℓ room (1k)

125 mℓ margarien

250 mℓ suiker (1k)

125 mℓ kookwater (1/2 k)

METODE:

Kook alles saam vir 2 minute en gooi oor poeding sodra dit uit die oond kom. Bak tot karamelagtig...en eet asof more die einde van die wereld is. Mwah!

Monday, July 26, 2010

Vetkoek kombuis & vriende - deur Johan Obbes

Vetkoek kombuis & Vriende


Eerstens ’n groot dankie van Stef Bos en sy kantoor vir julle positiewe terug voering oor laas week se resensie! Hou asb. aan met lees. Ons love jou Afrikaas. ;-)

Terug na die hede. Vandag is ek regtig in twee geskeur om eintlik die waarheid en niks anders as die waarheid te vertel van wat alles met ons vetkoek aand gebeur het nie...maar al die staaltjies mag dalk net geveinsde lesers aanstoot gee en dan dink ek gaan dit wragtag ’n einde hê soos “So help me God”, want koek en koekies het ’n heel nuwe betekenis gekry met ons laaste kook episode. Maar ek is mos ’n kerk mens so ek gaan my ordentlik hou. Gumbaja my Lord, Gumbaja!

Hmmm so nou wonder jy seker wat ons geëet het. De Wyk se hart het gehunker na die Andries Pretorius dae (sy voortrekker voorvader...onthou syne het gebid en myne het gesteel – ja ons kan nie familie kies nie) en sy siel het toe gaan rus op ’n Vetkoek resep van Tannie Joey op pg. 231 - Knuppeldik aan Koningskos - en soos net ’n voortrekker in Khaki klere en leer skoen kan protesteer vir volk en vaderland, verseg hy teen my wat wou afval kook, soos ’n steeks donkie en daar val die lot op Vetkoek bak.
Die vriende begin arriveer vanaf kunstenaars, film makers tot bedienings werkers en De Wyk is vlytig in ons miniatuur kombuis besig om beskuit te knie soos ’n nuwe biduur suster net voor die jaarlikse kerk basaar. Die meel lê op die grond en die konsentrasie breed op sy voorkop maar knie word daar geknie. Aanvanklik het ons die spulletjie verdubbel (wel dit was die intensie) om meer te mense te voed want die resep sê nie hoeveel vetkoeke mens uit die beslag kan kry nie en daar raak die spulletjie effe loperig. Maar niks wat Bokomo nie kan uitsorteer nie en gou kry ons die spulletjie styf. Hou vas!

Die deeg word toe vir 50 minute in die skottel gelos om te rys waarna dit in 16 bolletjies gerol is om op die kombuis werksblad uit gepak te word en dan verder individueel te rys. So bedek ons toe die besigheid met ‘n plastieksak sodat die hitte die gistings proses aanhelp en terwyl die stuk sak hierdie menigte van sonde bedek, gaan maak ons seker dat die gaste se glase darem nie leeg is nie, want op ons kombuis muur staan mos breed geskryf dat “Dis nie ’n skande om arm te wees nie, net fokken ongemaklik”. So ons wil nou nie hê die gaste moet ongemaklik wees nie en vertoef toe maar in die sitkamer eerder as in die kombuis. Ons kombuis muur het ’n palet geword waar vriende met Whiteboard markers kan skryf op die teëls en dus het ons gereeld nuwe wyshede wat ons mee kan spog en maak asof ons dit uitgedink het.

Wat ons toe nie weet nie is dat die koeke begin te groei soos iets uit ’n “Gost Busters “ fliek uit en toe ek en De Wyk weer in die kombuis kom trek die spulletjie al bo-oor die wasmasjien! Gelukkig stress ons nie, want ons twee was darem al 1 bottel Pinotage sterk en gooi toe net wit tande vir die gaste dat hulle niks agterkom nie, soos iemand wat gepoep het in die kerk en nie sy bedrieglike maag wil verraai met die dooie reuk nie.

Nie lank nie of ons trek los en begin vetkoek te bak soos net voortrekker bloed dit kan doen en daar kom ons te voorskyn met 16 goudgeel warm vetkoeke! Die vlytigheid stop toe nie hier nie en De Wyk spring los deur twee vulsels aanmekaar te klop, ’n Knoffel Maalvleis en ’n Thai Chicken Curry met Amandels in sommer so uit sy kop uit gedink. Die mense het gekuier, die staaltjies het gevloei, die lag was uit die maag uit en na ’n “verleidelike” nagereg van Chocolate Roomys en “short” cakes biscuits weet ons nou...so this is how the cookie crumbles, of soos mens in Afrikaans sal sê “Dis nou hoe die boerewors buig”.

Bestandele:

500 mℓ Lou water (2k)

2 t Suiker

2 t Droë gis, gelyk - ek vermoed die woord gelyk bedoel die lepels moet gelyk wees?

250 mℓ (5 x) meelblom (5k) – ons was effe verward met al die “5e” en het maar net 5 koppies meelblom gebruik

10 mℓ Sout

25 mℓ Olie (2e) – ons het die olie vervang met regte plaasbotter wat ’n heerlike smaak gegee het

Metode:

Roer suiker in lou water en gooi gis by. Laat rys tot gis bo dryf. (was nie seker van die proses nie maar het maar net voorgegaan). Sif meelblom en sout saam. Voeg olie by gis, meng moet meelblom en knie goed. Laat rys vir 50 minute. Maak op in vetkoeke. Plaas op gesmeerde blad. Sit plastiek oor en laat weer vir 20 minute rys. (onthou om darem so ogie oor die spulletjie te hou so nie gaan jy ook nou nog vetkoek deeg uit jou was masjien skep soos ons hier in Welgemeend straat) Bak in warm olie tot bruin.

Die vetkoek was regtig lekker en ek sal dit enige tyd weer doen. Wat ons gevind het, is dat as die olie baie warm is word die buitekant van die koek gou gaar en die binnekant bly rou. Hou jou olie dus middelmatig. Ons vetkoek het nie juis ’n gat in die middel gelos vir die vulsel nie maar ek is seker dis iets wat met oefening kom.

BAIE BAIE DANKIE, VIR AL JULLE ONDERSTEUNING. ONS HET AL OOR DIE 830 HITS NET VIR Julie MAAND EN DIE SOUT & TIEMIE BLOG GROEI DANKSY JULLE LIEFDE VIR AFRIKAANS EN BEREIDHEID OM TE LAG VIR NONSENS PRAAT.

Saturday, July 17, 2010

Stef Bos, 'n Boer, 'n Klootsak en die liefde! - deur Johan Obbes

Stef Bos, ’n Boer, ’n Klootsak en die liefde!


Na aanloop van laas week se ervaring waar ek ’n beskermings geskenkie gekry het vir my “Piesangs” by my Hollandse vriendin is ek jou wragtag weer hierdie week by die Hollanders en julle dink seker nou dat ons op die trant van die sokker voort neuk en volgende week iets Spaans gaan doen...Uh nou nie juis nie, maar dalk is dit tyd vir ’n paellatjie volgende week om net bietjie balans in ons spulletjie te bring. O’ en in verband met my nuwe “Piesang” geskenkie...baie dankie vir al die terug voering... ek het nog nooit ’n piesang met soveel aftrek gehad nie.

Vir eers, moet ek terug na my Hollandse fassinasie...Stef Bos, ’n kunstenaar wat diep is. Ja, die Vader alleen weet die man is dieper as Kimberley se gat maar ’n vertoning deur hierdie “Afrikaas” (Sy eie woorde vir ’n Kaaskop wat al gedeetelik Afrikaans praat) is opreg ’n ervaring wat elke mens moet geniet. Tot en met Donderdag aand het ek nog net na Stef se musiek geluister as ek myself in ’n kreatiwiteit wil inforseer soos ’n paar nommer 36 boude in ’n 32 hipstertjie... nie dat ek ’n eet probleem het nie. (Personal Note...onthou confession vir al my leuens hierdie week)

So arriveer ek gepantser teen die koue motreën soos Paris Hilton op soek na ’n dagga zol in Hillbrow, saam met De Wyk en Fred by “Die Boer” Restaurant & Teater in Durbanville en gaan plak saam met vriende, sommige nuut en ander al 10 jaar in my hart in hierdie vlekkie nostalgie gedrapeer met rooi fluweel. Voor ek voortgaan moet ek eers net iets verduidelik. “Die Boer” het niks te doen met ’n wit mense benaming, Veldfokus” hemde of ’n Julius Malema refrein nie. Dis ’n teater wat gefokus is op die genot, waardering en ontwikkeling van kunstenaars wat grotendeels in Afrikaans optree, maar nie uitsluitlik nie. Die ambience binne is “rustic” met oop houtbalke in die dak, rooi fluweel gedrapeerde verhoog, Aga koolstoof in die hoek, tafeltjies wat se hout blaaie lyk of dit in ’n skuur geflans is met memorabilia oral oor wat heel moontlik ’n boek kon skryf oor al die legendes wat hier opgetree het. Dis tipies kabaret, nostalgie met ’n koeksister flair, ’n Karoo verlange en ’n rooiwyn welkom.

Een blik na die spyskaart en ek het geen oortuiging nodig gehad om weer na “Die Boer” terug te kom nie. Die porsies is groot. Prys God op die spot! ...nie dat ek ’n eet probleem het nie. (onthou die confession Johan, confession) Hulle spyskaart is uiteenlopend en definitief die prys werd. Vanaf R30 – R130 vir ’n maaltyd het my mangels verstrengel geraak in ’n histerie toe my bord “Boere Pasta” verskyn met biltong, ham, tamatie, gerookte kaasworsies in ’n room sous met Parmesan.

Die vertoning was opreg, intens en ongelooflik snaaks met Stef se reguit praat. Van ’n “Klootsak” (poephol in Hollands... ja ek het ook gedog dis iets wat neig tot Tannie Joey se skaap peertjies resep) tot ’n “Botsmus” het ons in die Kaaskop se psige gedeel, die storie oor sy eersgeborene seun...en sy frases oor sy lewe...”Mense wat jy voor lief is neem jy altyd mit op die verhoog”. “Elke stukkie van my liggaam is van my mense wat voor my geleef het...en as jy kak aanjaag kan jy dit sommer op hulle blameer”. Sy musiek is eerlik, misterieus, oorspronklik, poëties en ’n absolute palet van woorde. Ons het gelag, tot ons skree en met tye stil geword en daai “rots” bewustheid weer ervaar van daai deeltjie in jou siel wat skree “Ek wil liefhê”. Sy musiek het my laat dink, laat verlang maar merendeels ...my geïnspireer om te leef, leef, leef.

Die aand het my laat onthou dat die lewe is te kort vir cheap rooi wyn, Calvinistiese guilt trips en ’n hart sonder liefde. As jy nog nie “Die Boer” besoek het of selfs Stef se musiek in die hande gekry het nie...maak ’n plan! Hulle albei se links is hier bo.