Freak eers uit, haal asem in ’n bruin papier sak en dan sit jy en eet maar solank ’n chocolate om te herstel van die skok. Of maak soos my ma en drink twee gemmertjies om te herstel (of voor te berei vir moontlike traumas) van die skok. Eks ernstig. Ek het beskerming gekry vir my piesang. Wag laat ek verduidelik want ek sien nou al stroom mense met vuur fakkels op pad na my brandstapel. My Hollandse vriendin Sytske het al lankal gesê dat sy vir my ’n geskenk saam gebring het van haar onlangse kuier by die huis. So op die blydskap van Holland se oorwinning in die sokker huppel ek gister na haar kantoor om vir poppie te gaan kry vir ’n koffie.
Skaars binne, kom sy met ’’n speelse gilletjie en baie stoute glimlag tot stilstand en roep kinderlik uit! “Johan Ik heb jou geskenk hierso”. Sytske gooi deesdae ‘n mengsel van Afrikaans en Nederlands want haar Afrikaans is al baie goed, maar so nou en dan kom daar nog ’n woord deur wat klink soos ’n Kaapse conversation tussen twee bergies wat mekaar se ma’s vloek na ’n stryd oor ’n papsak, maar ons ken al heel goed die verskil tussen die twee variasies wanneer sy gewoonweg praat en wanneer die emosie in ’’n effense drif deurkom.
Sy lag uit haar maag uit en kom te voorskyn met ’’n moerse geel plastiek piesang. Nee, nie moerse soos in “Johan-wil-net-vloek-nie”...moerse soos in ’n 30cm lange plastiek piesang. My oë rek! “O, Vader vrou waarvoor is die ding”. Ek weet amper nie waar om te vat en waar om te los nie. Ons staan immers in die kerk kantoor. “Dis ’n houer vir jou piesang om te sorg dit nie squash nie. Nou kan je jou piesang heeldag vars hou”. Die piesang is ‘n kos blikkie in die vorm van ’n “groot” piesang wat jy gebruik om ’n piesang (vrug) saam met jou te neem en dit veilig en vars te hou teen alle “druk” van buite. Teen die tyd is ek en Sytske histeries soos twee tieners by ’n Kurt Darren konsert op Warrenton.
Sytske jy rock! Sokker of geen sokker...jy maak die Kaap Hollands!
Prys die Here vir vars piesangs!
ReplyDeleteWel... teminste een van hulle ;>