Na aanloop van laas week se ervaring waar ek ’n beskermings geskenkie gekry het vir my “Piesangs” by my Hollandse vriendin is ek jou wragtag weer hierdie week by die Hollanders en julle dink seker nou dat ons op die trant van die sokker voort neuk en volgende week iets Spaans gaan doen...Uh nou nie juis nie, maar dalk is dit tyd vir ’n paellatjie volgende week om net bietjie balans in ons spulletjie te bring. O’ en in verband met my nuwe “Piesang” geskenkie...baie dankie vir al die terug voering... ek het nog nooit ’n piesang met soveel aftrek gehad nie.
Vir eers, moet ek terug na my Hollandse fassinasie...Stef Bos, ’n kunstenaar wat diep is. Ja, die Vader alleen weet die man is dieper as Kimberley se gat maar ’n vertoning deur hierdie “Afrikaas” (Sy eie woorde vir ’n Kaaskop wat al gedeetelik Afrikaans praat) is opreg ’n ervaring wat elke mens moet geniet. Tot en met Donderdag aand het ek nog net na Stef se musiek geluister as ek myself in ’n kreatiwiteit wil inforseer soos ’n paar nommer 36 boude in ’n 32 hipstertjie... nie dat ek ’n eet probleem het nie. (Personal Note...onthou confession vir al my leuens hierdie week)
So arriveer ek gepantser teen die koue motreën soos Paris Hilton op soek na ’n dagga zol in Hillbrow, saam met De Wyk en Fred by “Die Boer” Restaurant & Teater in Durbanville en gaan plak saam met vriende, sommige nuut en ander al 10 jaar in my hart in hierdie vlekkie nostalgie gedrapeer met rooi fluweel. Voor ek voortgaan moet ek eers net iets verduidelik. “Die Boer” het niks te doen met ’n wit mense benaming, Veldfokus” hemde of ’n Julius Malema refrein nie. Dis ’n teater wat gefokus is op die genot, waardering en ontwikkeling van kunstenaars wat grotendeels in Afrikaans optree, maar nie uitsluitlik nie. Die ambience binne is “rustic” met oop houtbalke in die dak, rooi fluweel gedrapeerde verhoog, Aga koolstoof in die hoek, tafeltjies wat se hout blaaie lyk of dit in ’n skuur geflans is met memorabilia oral oor wat heel moontlik ’n boek kon skryf oor al die legendes wat hier opgetree het. Dis tipies kabaret, nostalgie met ’n koeksister flair, ’n Karoo verlange en ’n rooiwyn welkom.
Een blik na die spyskaart en ek het geen oortuiging nodig gehad om weer na “Die Boer” terug te kom nie. Die porsies is groot. Prys God op die spot! ...nie dat ek ’n eet probleem het nie. (onthou die confession Johan, confession) Hulle spyskaart is uiteenlopend en definitief die prys werd. Vanaf R30 – R130 vir ’n maaltyd het my mangels verstrengel geraak in ’n histerie toe my bord “Boere Pasta” verskyn met biltong, ham, tamatie, gerookte kaasworsies in ’n room sous met Parmesan.
Die aand het my laat onthou dat die lewe is te kort vir cheap rooi wyn, Calvinistiese guilt trips en ’n hart sonder liefde. As jy nog nie “Die Boer” besoek het of selfs Stef se musiek in die hande gekry het nie...maak ’n plan! Hulle albei se links is hier bo.
Stef Bos - Ek heb je lief. Ek kan nie glo ek het hom gemis nie.... En ja - die boer se kos rock! My gedagtes was edel en het gedink 'n klootsak is iets soos 'n knapsak ... nou kan ek 'n paar nuwe segoed opmaak as liefie te lank vat na my sin om takies klaar te maak ... of selfs net te begin. Daar gelos. Anders is dit ek 'n nog 'n Calvinistiese guilt trip. Ons het mekaar te lanklaas gesien!
ReplyDelete